1 | HALLELUJA! Loof die HERE uit die hemele; loof Hom in die hoogtes! |
2 | Loof Hom, al sy engele, loof Hom, al sy leërskare! |
3 | Loof Hom, son en maan, loof Hom, alle ligtende sterre! |
4 | Loof Hom, hoogste hemele en waters wat bo die hemele is! |
5 | Laat hulle die Naam van die HERE loof; want Hý het bevel gegee — en hulle is geskape. |
6 | En Hy het hulle in stand gehou vir altyd, vir ewig; Hy het ’n wet gegee wat geeneen oortree nie. |
7 | Loof die HERE van die aarde af — groot seediere en alle dieptes! |
8 | Vuur en hael, sneeu en damp, stormwind wat sy woord volbring; |
9 | berge en alle heuwels, vrugtebome en alle sederbome, |
10 | wilde diere en alle vee, kruipende diere en gevleuelde voëls; |
11 | konings van die aarde en alle volke, vorste en alle regters van die aarde; |
12 | jongelinge en ook jongedogters, oues saam met die jonges — |
13 | laat hulle die Naam van die HERE loof! Want sy Naam alleen is hoog; sy majesteit is oor aarde en hemel! |
14 | En Hy het ’n horing vir sy volk verhef: ’n roem vir al sy gunsgenote; vir die kinders van Israel, die volk wat naby Hom is. Halleluja! |