| 1 | LOOF die HERE, want dit is goed om onse God te besing, ja lieflik; ’n loflied is gepas! |
| 2 | Die HERE bou Jerusalem op; Hy versamel van Israel die wat verdryf is. |
| 3 | Hy genees die wat gebroke is van hart, en Hy verbind hulle wonde. |
| 4 | Hy bepaal die getal van die sterre; Hy gee hulle almal name. |
| 5 | Onse Here is groot en ryk aan krag; sy verstand is oneindig. |
| 6 | Die HERE rig die ootmoediges weer op; die goddelose mense verneder Hy tot die grond toe. |
| 7 | Sing ’n danklied tot eer van die HERE, psalmsing tot eer van onse God met die siter; |
| 8 | wat die hemel met wolke oordek, wat vir die aarde reën berei, wat op die berge gras laat uitspruit, |
| 9 | wat aan die vee hulle voedsel gee, aan die jong rawe as hulle roep. |
| 10 | Hy het geen welbehae in die krag van die perd, geen welgevalle in die bene van die man nie. |
| 11 | Die HERE het ’n welgevalle in die wat Hom vrees, wat op sy goedertierenheid hoop. |
| 12 | O Jerusalem, prys die HERE! O Sion, loof jou God! |
| 13 | Want Hy het die grendels van jou poorte sterk gemaak; Hy het jou kinders binne-in jou geseën. |
| 14 | Hy wat aan jou grondgebied vrede verskaf, wat jou versadig met die beste van die koring, |
| 15 | wat sy bevel na die aarde stuur — sy woord loop baie vinnig. |
| 16 | Hy gee sneeu soos wol; Hy strooi ryp soos as. |
| 17 | Hy werp sy ys heen soos stukke — wie kan bestaan voor sy koue? |
| 18 | Hy stuur sy woord en laat hulle smelt; Hy laat sy wind waai — die waters loop. |
| 19 | Hy maak aan Jakob sy woorde bekend, aan Israel sy insettinge en sy verordeninge. |
| 20 | So het Hy aan geen enkele nasie gedoen nie; en sy verordeninge, dié ken hulle nie. Halleluja! |