1 | MAAR Job het geantwoord en gesê: |
2 | Hoe lank sal julle my siel kwel en my met woorde verbrysel? |
3 | Nou tien maal al doen julle my smaadheid aan, mishandel julle my sonder om julle te skaam. |
4 | En het ek ook werklik my misgaan, dan bly my fout by my. |
5 | AS julle jul werklik teen my wil groot maak en teen my my smaadheid wil bewys, |
6 | weet dan dat Gód my onregverdig behandel het en met sy net my rondom ingesluit het. |
7 | As ek roep: Geweld! dan word ek nie verhoor nie; ek roep om hulp, maar daar is geen reg nie. |
8 | Hy het my weg toegemuur, sodat ek nie verby kan nie; en oor my paaie het Hy duisternis gesprei. |
9 | My eer het Hy van my afgetrek en die kroon van my hoof weggeneem. |
10 | Hy werp my aan alle kante omver, en — daar gaan ek! En Hy het my verwagting uitgeruk soos ’n boom. |
11 | Ook het Hy sy toorn teen my laat ontvlam en my beskou as een van sy vyande. |
12 | As een man kom sy skare aan en baan ’n pad vir hulle teen my, en hulle slaan die laer op rondom my tent. |
13 | MY broers het Hy ver van my verwyder, en my bekendes het vir my heeltemal vreemd geword. |
14 | My nabestaandes ontbreek, en my vertroudes het my vergeet. |
15 | My bywoners en my slavinne beskou my as ’n vreemde; ’n onbekende het ek geword in hulle oë. |
16 | Ek roep my slaaf, maar hy antwoord nie; met my mond moet ek hom smeek. |
17 | My asem is vir my vrou hinderlik, en my slegte reuk vir die kinders van my moeder se skoot. |
18 | Selfs jong seuns minag my; wil ek opstaan, dan spot hulle met my. |
19 | Al my vertroude vriende het ’n afsku van my; en die wat ek liefgehad het, het hulle teen my gekeer. |
20 | My gebeente kleef aan my vel en aan my vlees, en ek het slegs met my tandvlees ontsnap. |
21 | Ontferm julle oor my, ontferm julle oor my, o my vriende, want die hand van God het my getref! |
22 | Waarom vervolg julle my, soos God, en word nie versadig van my vlees nie? |
23 | Ag, mag my woorde tog maar opgeskrywe, mag hulle maar in ’n boek opgeteken word — |
24 | met ’n ystergriffel en lood — vir altyd in ’n rots ingekap! |
25 | MAAR ek, ek weet: My Verlosser leef; en Hy sal as laaste oor die stof opstaan. |
26 | En nadat hulle so my vel afgeskeur het, sal ek nogtans uit my vlees God aanskou; |
27 | Hom wat ék sal aanskou my ten goede, en my oë — en geen vreemde nie — sal sien, My niere versmag van verlange in my binneste. |
28 | As julle sê: Hoe sal ons hom vervolg, aangesien die wortel van die saak in hom gevind is! — |
29 | vrees dan vir die swaard, want grimmigheid is een van die oortredinge wat die swaard verdien, sodat julle kan weet dat daar ’n oordeel is. |