| 1 | TOE het Sofar, die Naämatiet, geantwoord en gesê: |
| 2 | Daarom juis antwoord my gedagtes my, en wel weens my haastigheid in my. |
| 3 | ’n Bestraffing wat vir my griewend is, moet ek aanhoor; maar die gees uit my verstand antwoord my. |
| 4 | WEET jy wel dit wat van altyd af was, vandat die mens op die aarde gemaak is: |
| 5 | dat die gejubel van die goddelose kort van duur is en die vreugde van die roekelose net vir ’n oomblik? |
| 6 | Al klim sy hoogheid na die hemel toe op, en al raak sy hoof aan die wolke — |
| 7 | soos sy eie drek vergaan hy vir ewig; die wat hom gesien het, vra: Waar is hy? |
| 8 | Soos ’n droom vlieg hy weg, sodat ’n mens hom nie meer vind nie; en hy word verjaag soos ’n naggesig. |
| 9 | Die oog wat hom gesien het, sien hom nie meer nie; en sy plek aanskou hom nie meer nie. |
| 10 | Sy kinders moet die guns soek van armes, en met eie hande moet hy sy vermoë teruggee. |
| 11 | Sy gebeente was vol van sy jeugdige krag; maar met hom saam lê dit in die stof. |
| 12 | AL smaak die kwaad soet in sy mond, al verberg hy dit onder sy tong, |
| 13 | al spaar hy dit, en al wil hy dit nie laat vaar nie, maar dit terughou in sy verhemelte — |
| 14 | tog word sy voedsel in sy ingewande verander, dit word gal van adders in sy binneste. |
| 15 | Rykdom het hy verslind, maar hy moet dit weer uitspuug; uit sy buik dryf God dit weg. |
| 16 | Die gif van adders suig hy in, die tong van ’n slang maak hom dood. |
| 17 | Hy mag hom nie verlustig in beke, in vloeiende strome van heuning en dikmelk nie. |
| 18 | Wat hy deur arbeid verkry het, gee hy terug sonder om dit in te sluk; na die maat van sy ingeruilde rykdom sal hy nie bly wees nie. |
| 19 | Want hy het die armes verdruk, aan hulle lot oorgelaat; ’n huis het hy geroof, maar hy sal dit nie opbou nie. |
| 20 | Want hy het geen rus geken in sy binneste nie; so sal hy dan nie ontsnap met sy kosbare goed nie. |
| 21 | Niks het ontkom aan sy vraatsug nie; daarom is sy voorspoed nie duursaam nie. |
| 22 | By die volheid van sy oorvloed sal hy benoud wees: al die hande van ellendiges oorval hom. |
| 23 | OM sy buik te vul, sal Hy teen hom uitstuur sy toorngloed, en Hy sal dit op hom laat reën as sy voedsel. |
| 24 | Hy sal vlug vir die ysterwapens — ’n koperboog sal hom deurboor. |
| 25 | Hy trek — daar kom dit uit sy rug, en die glinsterende swaard gaan uit sy gal; verskrikkinge is op hom! |
| 26 | Pure duisternis is bewaar vir sy skatte; ’n vuur wat nie deur mense aangeblaas is nie, verteer hom; dit wei af wat in sy tent oorbly. |
| 27 | Die hemel openbaar sy ongeregtigheid, en die aarde staan teen hom op. |
| 28 | Weggevoer word die opbrings van sy huis — goed wat wegspoel op die dag van sy toorn. |
| 29 | Dit is die deel van die goddelose mens van die kant van God en die erfdeel wat vir hom bestem is deur God. |