1 | DAARNA het Job sy mond oopgemaak en sy dag vervloek. |
2 | En Job het begin en gesê: |
3 | Mag die dag vergaan waarop ek gebore is, en die nag wat gesê het: ’n Seun is ontvang. |
4 | Mag dié dag duisternis wees; mag God nie na hom vra daarbo nie en geen ligglans oor hom skyn nie. |
5 | Mag duisternis en doodskaduwee hom opeis, ’n wolkgevaarte oor hom gaan lê, dagverduisteringe hom verskrik. |
6 | Daardie nag — mag donkerheid hom wegruk, mag hy nie bly wees onder die dae van die jaar, in die getal van die maande nie kom nie. |
7 | Ja, mag dié nag onvrugbaar wees, geen gejubel tot hom deurdring nie. |
8 | Mag die dagvervloekers hom verwens, hulle wat die kuns verstaan om die Leviátan op te hits. |
9 | Mag die sterre van sy môreskemering verduister word; mag hy wag op lig, maar tevergeefs, en die ooglede van die dageraad nie sien nie. |
10 | Omdat hy vir my nie toegesluit het die deure van die moederskoot nie en moeite vir my oë nie verberg het nie. |
11 | Waarom het ek nie gesterf by die geboorte, nie uitgegaan uit die moederskoot en die asem uitgeblaas nie? |
12 | Waarom het knieë my teëgekom, en waarom borste, dat ek moes drink? |
13 | Want dan sou ek daar gelê en stil gewees het; ek sou geslaap, ek sou dan rus gehad het, |
14 | saam met konings en raadsmanne van die aarde, wat puinhope weer opgebou het vir hulleself; |
15 | of saam met vorste wat goud besit, wat hulle huise met silwer gevul het. |
16 | Of ek sou, soos ’n weggestopte misgeboorte, nie bestaan het nie, soos kinders wat die lig nie gesien het nie. |
17 | Daar hou die goddelose op met woel, en daar rus hulle wie se kragte uitgeput is. |
18 | Die gevangenes is almal saam gerus; hulle hoor die stem van die drywer nie. |
19 | Klein en groot is daar gelyk, en die slaaf is vry van sy heer. |
20 | WAAROM gee Hy lig aan die ellendige en lewe aan die wat verbitterd is van siel; |
21 | wat wag op die dood, en hy kom nie; en meer na hom grawe as na verborge skatte; |
22 | wat bly sou wees met gejuig, hulle sou verheug as hulle die graf kon vind? |
23 | Waarom gee Hy lig aan ’n man wie se weg verborge is, ’n man wat deur God aan alle kante ingesluit is? |
24 | Want soos my brood kom my gesug, en my gebrul word uitgestort soos water. |
25 | As ek iets vreesliks vrees, kom dit oor my; en die ding waarvoor ek bang is, kom na my toe. |
26 | Ek het geen kalmte en geen stilte en geen rus nie, of daar kom die onrus! |