1 | TOE antwoord Élifas, die Temaniet, en sê: |
2 | As ’n mens dit met ’n woord by jou waag, sal jy ontstemd wees? Maar woorde inhou — wie kan dit? |
3 | Kyk, jy het baie mense tereggewys en slap hande versterk. |
4 | Jou woorde het opgerig die wat struikel, en jy het knikkende knieë versterk. |
5 | Maar nou dat dit jóú oorkom, is jy moedverlore; nou dat dit jóú tref, is jy verslae! |
6 | IS jou Godsvrees nie jou hoop, jou vrome wandel nie jou verwagting nie? |
7 | Bedink tog, wie het ooit onskuldig omgekom, en waar is opregtes verdelg? |
8 | Volgens ek gesien het: Die wat onreg ploeg en moeite saai, dié maai dit. |
9 | Deur die asem van God kom hulle om, en deur die geblaas van sy toorn word hulle vernietig. |
10 | Die gebrul van die leeu en die stem van die bruller — ja, die tande van die jong leeus word uitgebreek. |
11 | Die leeu kom om by gebrek aan prooi, en die kleintjies van die leeuin word verstrooi. |
12 | VERDER is ’n woord op geheimsinnige wyse na my gebring, en my oor het ’n gefluister daarvan opgevang, |
13 | by die gedagtespel, uit naggesigte gebore, wanneer diepe slaap op die mense val. |
14 | Skrik het oor my gekom en siddering en het my hele gebeente laat bewe. |
15 | Toe skuif daar ’n gees voor my verby; die hare van my vlees het opgerys. |
16 | Hy bly staan, maar ek kon sy gedaante nie herken nie — ’n verskyning voor my oë! Ek hoor die gefluister van ’n stem wat sê: |
17 | Sou ’n sterfling regverdig wees voor God? Of ’n man rein wees voor sy Maker? |
18 | Kyk, in sy dienaars stel Hy geen vertroue nie, en by sy engele ontdek Hy dwaling. |
19 | Hoeveel meer by hulle wat kleihuise bewoon, van wie die grondslag in die stof is, wat fyngedruk word soos ’n mot. |
20 | Tussen môre en aand word hulle verpletter; hulle kom vir ewig om sonder dat iemand daar ag op gee. |
21 | Word hulle tentlyn nie losgeruk in hulle nie? Hulle sterwe, en dit sonder wysheid. |