| 1 | EK het ’n verbond gesluit met my oë: hoe sou ek dan ag gegee het op ’n jonkvrou? |
| 2 | Wat tog is die lot wat God daarbo beskik, en die erfdeel van die Almagtige uit die hoogtes — |
| 3 | is dit nie ondergang vir die kwaaddoener en ongeluk vir die werkers van ongeregtigheid nie? |
| 4 | Sien Hý nie my weë nie, en tel Hy nie al my voetstappe nie? |
| 5 | As ek met leuens omgegaan het en my voet gehardloop het na bedrog: |
| 6 | laat Hy my dan weeg op ’n regte weegskaal, sodat God my onskuld kan weet! |
| 7 | As my gang afgewyk het van die weg en my hart agter my oë aangegaan het en aan my hande ’n vlek gekleef het — |
| 8 | laat my dan saai en iemand anders eet, en laat my uitspruitsels ontwortel word. |
| 9 | As my hart verlok was oor ’n vrou, en ek geloer het by die deur van my naaste — |
| 10 | laat dan my vrou vir iemand anders maal en ander hulle oor haar buig. |
| 11 | Want dit is ’n skandelike daad, en dit is ’n strafbare misdaad. |
| 12 | Ja, dit is ’n vuur wat tot by die plek van vertering toe vreet en al my opbrings sou ontwortel. |
| 13 | As ek gering geag het die reg van my slaaf of van my slavin toe hulle ’n geskil met my gehad het — |
| 14 | wat sou ek dan doen as God opstaan? En wat Hom antwoord as Hy ondersoek doen? |
| 15 | Het Hy wat my in die moederskoot gemaak het, hom nie gemaak nie? En het Een ons nie in die geboorte toeberei nie? |
| 16 | As ek die armes ’n versoek geweier het en die oë van die weduwee laat versmag het |
| 17 | en my stukkie brood alleen geëet het sonder om die wees daarvan te laat saameet; |
| 18 | (veelmeer het hy van my jeug af by my grootgeword soos by ’n vader, en van my moeder se skoot af het ek haar gelei!) |
| 19 | as ek iemand sien omkom het sonder klere en dat daar geen bedekking vir die behoeftige was nie; |
| 20 | as sy lendene my nie geseën en hy hom nie warm gemaak het van die skeersel van my lammers nie; |
| 21 | as ek my hand teen ’n wees beweeg het, omdat ek in die poort vir my hulp gesien het — |
| 22 | laat dan my skouer uit sy gewrig val en my arm van sy pyp afgebreek word. |
| 23 | Want die ondergang wat God bewerk, was ’n skrik vir my; en weens sy hoogheid was ek onmagtig. |
| 24 | As ek op goud my hoop gestel het en vir die fyn goud gesê het: My vertroue! |
| 25 | As ek bly gewees het, omdat my vermoë groot was en my hand baie verwerf het; |
| 26 | as ek die sonlig aangesien het wanneer dit helder skyn en die maan wat so pragtig daarheen gaan, |
| 27 | en my hart heimlik verlei is, en ek met my hand hulle ’n kus toegewerp het — |
| 28 | ook dit sou ’n strafbare misdaad wees, want ek sou God daarbo verloën het. |
| 29 | As ek bly was oor die ongeluk van my hater en uitgejubel het toe onheil hom getref het; |
| 30 | (ja, ek het my verhemelte nie toegelaat om te sondig nie, om deur ’n vloek sy lewe te vorder nie!) |
| 31 | as die mense in my tent nie gesê het: Wie kan iemand vind wat van sy vleesspys nie versadig is nie? |
| 32 | die vreemdeling het nie buitekant vernag nie; my deure het ek oopgemaak na die pad toe!) |
| 33 | as ek, soos Adam, my oortredinge bedek het deur my ongeregtigheid in my boesem weg te steek, |
| 34 | omdat ek bang was vir die groot menigte en die veragting van die geslagte my laat skrik het, sodat ek my stil gehou, die deur nie uitgegaan het nie! |
| 35 | Ag, as iemand my maar wou aanhoor! Kyk hier my handtekening (laat die Almagtige my antwoord!) en die skrif wat my teëparty geskrywe het! |
| 36 | Waarlik, op my skouer sou ek dit dra; ek sou dit my ombind as ’n krans. |
| 37 | Die getal van my voetstappe sou ek Hom te kenne gee; as ’n vors sou ek na Hom toe aankom. |
| 38 | As my saailand my aanklaag en sy vore almal saam ween; |
| 39 | as ek sy opbrings geëet het sonder betaling en die lewe van sy eienaars uitgeblaas het — |
| 40 | laat dan distels in plaas van koring uitspruit en onkruid in plaas van gars. Hier eindig die woorde van Job. |