| 1 | TOE het dié drie manne opgehou om Job te antwoord, omdat hy in sy eie oë regverdig was. |
| 2 | En die toorn van Elíhu, die seun van Barágeël, die Busiet, uit die geslag van Ram, het ontvlam; teen Job het sy toorn ontvlam, omdat hy homself regverdig beskou het voor God. |
| 3 | Sy toorn het ook ontvlam teen sý drie vriende, omdat hulle geen antwoord gevind het nie en Job veroordeel het. |
| 4 | Maar Elíhu het op Job gewag met sy woorde, omdat hulle ouer was as hy. |
| 5 | Maar toe Elíhu sien dat daar geen antwoord was in die mond van die drie manne nie, het sy toorn ontvlam. |
| 6 | EN Elíhu, die seun van Barágeël, die Busiet, het begin en gesê: Ek is jonk, en u is hoogbejaard; daarom was ek beskroomd en het gevrees om my kennis aan u mee te deel. |
| 7 | Ek het gesê: Laat die dae spreek en die veelheid van jare wysheid te kenne gee. |
| 8 | Maar dit is die Gees in die mens en die asem van die Almagtige wat hulle verstandig maak. |
| 9 | Nie die bejaardes is wys nie, en nie die oues verstaan wat reg is nie. |
| 10 | Daarom sê ek: Luister na my; ek wil ook my kennis meedeel. |
| 11 | Kyk, ek het gewag op u woorde; ek wou luister na verstandige taal van u, totdat u die regte woorde uitgevind het. |
| 12 | En ek het op u ag gegee; maar kyk: daar was niemand wat Job weerlê het nie, niemand van u wat sy woorde beantwoord het nie. |
| 13 | Sê maar net nie: Ons het wysheid aangetref, God alleen kan hom verslaan, geen mens nie. |
| 14 | Teen my tog het hy geen woorde ingebring nie; en met u redeneringe sal ek hom nie beantwoord nie. |
| 15 | HULLE staan verslae; hulle antwoord nie meer nie; die woorde laat hulle in die steek. |
| 16 | Sal ek dan wag, omdat hulle nie spreek nie, omdat hulle daar staan sonder antwoord? |
| 17 | Ek wil ook my deel antwoord; ek wil ook my kennis meedeel. |
| 18 | Want ek is vol woorde; die gees in my binneste dring my. |
| 19 | Kyk, my binneste is soos wyn wat geen opening het nie, soos nuwe leersakke wil dit bars. |
| 20 | Ek wil spreek om lug te kry, my lippe oopmaak en antwoord gee. |
| 21 | Ek wil nie partydig wees nie; en ’n mens vlei, sal ek nie. |
| 22 | Want ek verstaan nie om te vlei nie; gou sou my Maker my wegneem! |