| 1 | EN Elíhu het voortgegaan en gesê: |
| 2 | Wag ’n bietjie op my, en ek sal u inlig; want daar is nog genoeg te sê tot eer van God. |
| 3 | Ek sal my kennis van ver af ophaal en aan my Skepper reg verskaf. |
| 4 | Want waarlik, my woorde is geen leuens nie; een wat volkome is in kennis, is by u. |
| 5 | Kyk, God is geweldig, nogtans ag Hy niks gering nie — geweldig deur krag van verstand. |
| 6 | Hy laat die goddelose nie lewe nie, maar aan die ellendiges verskaf Hy reg. |
| 7 | Hy trek sy oë nie af van die regverdige nie, maar by konings op die troon laat Hy hulle sit vir altyd, sodat hulle verhoog is. |
| 8 | Maar as hulle in kettings geklink is, gevang word in bande van ellende, |
| 9 | dan gee Hy aan hulle hul dade te kenne en hul oortredinge, dat hul gedrag hoogmoedig was; |
| 10 | dan open Hy hulle oor vir die tugtiging en sê dat hulle moet terugkeer van ongeregtigheid. |
| 11 | As hulle luister en Hom dien, dan bring hulle hul dae deur in voorspoed en hul jare in aangenaamheid. |
| 12 | Maar as hulle nie luister nie, dan kom hulle om deur die spies, en hulle blaas die asem uit sonder kennis. |
| 13 | Maar die goddelose van hart koester nyd; hulle roep nie om hulp as Hy hulle bind nie. |
| 14 | So sterwe dan hulle siel in die jeug en hulle lewe soos dié van skandseuns. |
| 15 | Hy red die ellendige deur sy ellende en open hulle oor deur verdrukking. |
| 16 | SO lok Hy u dan ook uit die mond van die nood na ’n onbeperkte ruimte en na die behaaglikheid van u tafel wat vol is van vetspys. |
| 17 | Maar u is vol van die oordeel oor die goddelose: oordeel en strafgerig sal u aangryp. |
| 18 | Want pas op dat woede u nie verlok by die bestraffing en die grootheid van die losprys u nie verlei nie. |
| 19 | Sal Hy u geroep om hulp voorbring waar daar geen nood is nie, en alle moontlike kragsinspanning van u? |
| 20 | Smag nie na die oordeelsnag wat volke wegneem uit hulle plek nie. |
| 21 | Neem u in ag, wend u nie tot ongeregtigheid nie; want dit verkies u liewer as ellende. |
| 22 | Kyk, God handel verhewe in sy krag; wie is ’n leermeester soos Hy? |
| 23 | Wie het Hom sy weg voorgeskrywe? En wie het gesê: U het onreg gedoen? |
| 24 | Dink daaraan dat u sy werk moet verheerlik waar die mense van sing. |
| 25 | Al die mense sien dit met welgevalle aan, die sterfling aanskou dit van ver. |
| 26 | Kyk, God is groot en onbegryplik vir ons; die getal van sy jare is onnaspeurlik. |
| 27 | Want Hy trek waterdruppels af; hulle sif neer by sy mistige weer as reën |
| 28 | wat die wolke laat neerstroom, laat afdrup op baie mense. |
| 29 | Ja, kan iemand die uitspreiding van die wolke verstaan, die gekraak van sy hut? |
| 30 | Kyk, Hy sprei sy lig oor Hom uit, en die dieptes van die see oordek Hy. |
| 31 | Want daarmee oordeel Hy die volke, gee Hy voedsel in oorvloed. |
| 32 | Altwee sy hande oordek Hy met weerlig en gee daaraan bevel teen die aanvaller. |
| 33 | Sy donderstem kondig Hom aan, die vee selfs dat Hy optrek. |