1 | JA, hiervoor beef my hart en spring op uit sy plek. |
2 | Luister, luister na die gedruis van sy stem en die dreuning wat uit sy mond uitgaan. |
3 | Onder die ganse hemel laat Hy dit los en sy lig oor die eindes van die aarde. |
4 | Daarna brul sy stem, Hy donder met sy stem vol majesteit en hou die bliksems nie terug as sy stem gehoor word nie. |
5 | God donder wonderbaar met sy stem; Hy doen groot dinge wat vir ons onbegryplik is. |
6 | Want Hy gebied die sneeu: Val op die aarde! Ook die stortreën, ja, sy geweldige stortreëns. |
7 | Hy verseël die hand van elke mens in die winter, sodat tot kennis kan kom al die mense wat Hy gemaak het. |
8 | Dan gaan die wilde diere in skuilhoeke en bly in hulle lêplekke. |
9 | Uit sy kamer kom die stormwind, en deur die wolkverstrooiers koue. |
10 | Deur die asem van God word ys gegee, en die wye waters lê vas in die engte. |
11 | Ja, met volheid van water belas Hy die wolke, en Hy strooi ver en wyd sy ligtende wolk; |
12 | en dit skiet oral rond volgens sy bestel, sodat hulle alles doen wat Hy hulle beveel oor die wye wêreldrond: |
13 | òf tot ’n tugroede, òf tot nut van sy aarde, òf tot weldadigheid laat Hy dit sy doel vind. |
14 | LUISTER hierna, o Job! Staan stil en gee ag op die wonders van God. |
15 | Begryp u hoe God hulle bevel gee en die lig van sy wolk laat flikker? |
16 | Begryp u iets van die gesweef van die wolke, van die wonders van die Volmaakte in kennis? |
17 | U, wie se klere warm word as die aarde stil is vanweë die suide wind — |
18 | kan u saam met Hom die hemel uitbrei wat vas is soos ’n gegote spieël? |
19 | Onderrig ons wat ons aan Hom moet sê: ons kan niks voorbring vanweë die duisternis nie. |
20 | Moet dit Hom vertel word dat ek wil spreek? Of het iemand ooit gesê dat hy vernietig wil word? |
21 | En nou, ’n mens kan die lig nie aansien wat helder is in die hemel as die wind verbygegaan en dit skoongemaak het nie. |
22 | Uit die Noorde kom goud te voorskyn, maar oor God is daar ontsagwekkende majesteit. |
23 | Die Almagtige — ons vind Hom nie; Hy is groot van krag, maar die reg en die volheid van geregtigheid krenk Hy nie. |
24 | Daarom vrees die mense Hom; almal wat eiewys is, sien Hy nie aan nie. |