| 1 | HALLELUJA! Loof, o knegte van die HERE, loof die Naam van die HERE! |
| 2 | Laat die Naam van die HERE geprys word, van nou af tot in ewigheid! |
| 3 | Van die opgang van die son tot by sy ondergang moet die Naam van die HERE geloof word! |
| 4 | Die HERE is hoog bo al die nasies; bo die hemele is sy heerlikheid. |
| 5 | Wie is soos die HERE onse God, wat hoog woon, |
| 6 | wat laag neersien, in die hemel en op die aarde? |
| 7 | Wat die geringe uit die stof oprig, die behoeftige van die ashoop af verhef; |
| 8 | om hom te laat sit by die edeles, by die edeles van sy volk. |
| 9 | Wat die onvrugbare van die huis laat woon — ’n blye moeder van kinders. Halleluja! |