| 1 | EK het lief, want die HERE hoor my stem, my smekinge, |
| 2 | want Hy het sy oor tot my geneig; daarom sal ek Hom in my dae aanroep. |
| 3 | Bande van die dood het my omring, en angste van die doderyk het my getref; ek het benoudheid en kommer gevind. |
| 4 | Maar ek het die Naam van die HERE aangeroep: Ag, HERE, red my siel. |
| 5 | Die HERE is genadig en regverdig, en onse God is ’n ontfermer. |
| 6 | Die HERE bewaar die eenvoudiges; ek het swak geword, maar Hy het my gehelp. |
| 7 | My siel, keer terug tot jou rus; want die HERE het goed aan jou gedoen. |
| 8 | Want U het my siel gered van die dood, my oog van trane, my voet van struikeling. |
| 9 | Ek sal wandel voor die aangesig van die HERE in die lande van die lewendes. |
| 10 | Ek het geglo toe ek gespreek het: Ék is diep neergebuig. |
| 11 | Ék het in my angs gesê: Alle mense is leuenaars. |
| 12 | Wat sal ek die HERE vergeld vir al sy weldade aan my? |
| 13 | Ek sal die beker van verlossinge opneem en die Naam van die HERE aanroep. |
| 14 | My geloftes sal ek aan die HERE betaal in die teenwoordigheid van sy ganse volk. |
| 15 | Kosbaar is in die oë van die HERE die dood van sy gunsgenote. |
| 16 | Ag, HERE, sekerlik, ek is u kneg, ek is u kneg, die seun van u diensmaagd; U het my bande losgemaak. |
| 17 | Ek sal U ’n offer van danksegging bring en die Naam van die HERE aanroep. |
| 18 | Ek sal my geloftes aan die HERE betaal in die teenwoordigheid van sy ganse volk, |
| 19 | in die voorhowe van die huis van die HERE, binne-in jou, o Jerusalem! Halleluja! |