| 1 | NIE aan ons, o HERE, nie aan ons nie, maar aan u Naam gee eer, om u goedertierenheid, om u trou ontwil. |
| 2 | Waarom sou die heidene sê: Waar is dan hulle God? |
| 3 | terwyl onse God tog in die hemel is; Hy doen alles wat Hom behaag. |
| 4 | Hulle afgode is silwer en goud, ’n werk van mensehande. |
| 5 | Hulle het ’n mond, maar praat nie; hulle het oë, maar sien nie; |
| 6 | ore het hulle, maar hoor nie; hulle het ’n neus, maar ruik nie; |
| 7 | hande, maar hulle tas nie; voete, maar hulle loop nie; hulle gee geen geluid deur hul keel nie. |
| 8 | Die wat hulle maak, sal net soos hulle word — elkeen wat op hulle vertrou. |
| 9 | Israel, vertrou op die HERE: Hy is hulle hulp en hulle skild! |
| 10 | Huis van Aäron, vertrou op die HERE: Hy is hulle hulp en hulle skild! |
| 11 | Julle wat die HERE vrees, vertrou op die HERE: Hy is hulle hulp en hulle skild. |
| 12 | Die HERE het aan ons gedink: Hy sal seën, Hy sal die huis van Israel seën, Hy sal die huis van Aäron seën. |
| 13 | Hy sal diegene seën wat die HERE vrees, die kleintjies saam met die grotes. |
| 14 | Die HERE sal julle vermenigvuldig, julle en jul kinders. |
| 15 | Julle is geseënd deur die HERE wat hemel en aarde gemaak het. |
| 16 | Die hemele is hemele vir die HERE, maar die aarde het Hy aan die mensekinders gegee. |
| 17 | Die dode en almal wat na die stilte neerdaal, sal die HERE nie loof nie; |
| 18 | maar óns sal die HERE prys, van nou af tot in ewigheid. Halleluja! |