| 1 | LOOF die HERE, want Hy is goed, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid! |
| 2 | Laat Israel dan sê dat sy goedertierenheid tot in ewigheid is! |
| 3 | Laat die huis van Aäron dan sê dat sy goedertierenheid tot in ewigheid is! |
| 4 | Laat die wat die HERE vrees, dan sê dat sy goedertierenheid tot in ewigheid is! |
| 5 | Uit die benoudheid het ek die HERE aangeroep; die HERE het my verhoor in die ruimte. |
| 6 | Die HERE is vír my; ek sal nie vrees nie: wat kan ’n mens my doen? |
| 7 | Die HERE is vír my as my helper; so sal ék dan neersien op die wat my haat. |
| 8 | Dit is beter om by die HERE te skuil as om op mense te vertrou. |
| 9 | Dit is beter om by die HERE te skuil as om op edeles te vertrou. |
| 10 | Al die heidene het my omsingel; dit is in die Naam van die HERE dat ek hulle stukkend gekap het. |
| 11 | Hulle het my omsingel, ja, hulle het my omsingel; dit is in die Naam van die HERE dat ek hulle stukkend gekap het. |
| 12 | Hulle het my omsingel soos bye — hulle is uitgeblus soos ’n doringtakvuur; dit is in die Naam van die HERE dat ek hulle stukkend gekap het. |
| 13 | Jy het my hard gestamp om my te laat val, maar die HERE het my gehelp. |
| 14 | Die HERE is my sterkte en psalm, en Hy het my tot heil geword. |
| 15 | ’n Stem van gejubel en van heil is in die tente van die regverdiges: die regterhand van die HERE doen kragtige dade. |
| 16 | Die regterhand van die HERE verhef; die regterhand van die HERE doen kragtige dade. |
| 17 | Ek sal nie sterwe nie, maar lewe en die werke van die HERE vertel. |
| 18 | Die HERE het my hard gekasty, maar my aan die dood nie oorgegee nie. |
| 19 | Maak oop vir my die poorte van die geregtigheid; ek wil daardeur ingaan, ek wil die HERE loof. |
| 20 | Dit is die poort van die HERE; regverdiges mag daardeur ingaan. |
| 21 | Ek wil U loof, omdat U my verhoor het en my tot heil geword het. |
| 22 | Die steen wat die bouers verwerp het, het ’n hoeksteen geword. |
| 23 | Dit het van die HERE gekom; dit is wonderbaar in ons oë. |
| 24 | Dit is die dag wat die HERE gemaak het; laat ons daaroor juig en bly wees. |
| 25 | Ag, HERE, gee tog heil; ag, HERE, gee tog voorspoed! |
| 26 | Geseënd is hy wat kom in die Naam van die HERE! Ons seën julle uit die huis van die HERE. |
| 27 | Die HERE is God, en Hy het vir ons lig gegee. Bind die feesoffer met toue, tot by die horings van die altaar. |
| 28 | U is my God, en ek wil U loof; o my God, ek wil U verhoog. |
| 29 | Loof die HERE, want Hy is goed, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid! |