1 | WELGELUKSALIG is die opregtes van weg, wat in die wet van die HERE wandel. |
2 | Welgeluksalig is die wat sy getuienisse bewaar, Hom van ganser harte soek; |
3 | ook geen ongeregtigheid doen nie, maar in sy weë wandel. |
4 | Ú het u bevele gegee om dit trou te onderhou. |
5 | Ag, was my weë maar vas om u insettinge te onderhou! |
6 | Dan sal ek nie beskaamd staan as ek op al u gebooie let nie. |
7 | Ek sal U loof in opregtheid van hart as ek u regverdige verordeninge leer. |
8 | Ek sal u insettinge onderhou; verlaat my nie geheel en al nie. |
9 | Waarmee sal die jongeling sy pad suiwer hou? Deur dit te hou na u woord. |
10 | Ek soek U met my hele hart; laat my nie afdwaal van u gebooie nie. |
11 | Ek het u woord in my hart gebêre, dat ek teen U nie sal sondig nie. |
12 | Lofwaardig is U, o HERE! Leer my u insettinge! |
13 | Ek het met my lippe vertel al die verordeninge van u mond. |
14 | Ek is vrolik in die weg van u getuienisse soos oor allerhande rykdom. |
15 | Ek wil u bevele oordink en op u paaie let. |
16 | Ek sal my verlustig in u insettinge, u woord sal ek nie vergeet nie. |
17 | Doen goed aan u kneg, sodat ek kan lewe; dan wil ek u woord bewaar. |
18 | Open my oë, dat ek kan sien die wonders uit u wet. |
19 | Ek is ’n vreemdeling op die aarde; verberg u gebooie nie vir my nie. |
20 | My siel vergaan van verlange na u verordeninge altyddeur. |
21 | U dreig die vermeteles as gevloektes wat van u gebooie afdwaal. |
22 | Wentel smaad en veragting van my af, want u getuienisse het ek bewaar. |
23 | Al sit vorste en beraadslaag teen my — u kneg oordink u insettinge. |
24 | Ja, u getuienisse is my verlustiging, my raadsmanne. |
25 | My siel kleef aan die stof; maak my lewend na u woord. |
26 | My weë het ek vertel, en U het my verhoor; leer my u insettinge! |
27 | Laat my die weg van u bevele verstaan, dat ek u wonders kan oordink. |
28 | My siel drup weg van kommer; rig my op na u woord. |
29 | Verwyder van my die weg van leuens, en verleen my genadiglik u wet. |
30 | Ek het die weg van waarheid verkies; u verordeninge het ek voor my gestel. |
31 | Ek kleef u getuienisse aan; o HERE, maak my nie beskaamd nie! |
32 | Ek sal op die weg van u gebooie wandel, want U verruim my hart. |
33 | HERE, leer my die weg van u insettinge, sodat ek dit tot die einde toe kan bewaar. |
34 | Gee my verstand, dat ek u wet kan bewaar, ja, dit kan onderhou van ganser harte. |
35 | Laat my wandel op die pad van u gebooie, want daarin het ek ’n behae. |
36 | Neig my hart tot u getuienisse en nie tot winsbejag nie. |
37 | Wend my oë af, dat hulle geen nietigheid sien nie; maak my lewend in u weë. |
38 | Vervul aan u kneg u belofte wat pas by u vrees. |
39 | Wend my smaadheid af wat ek vrees, want u verordeninge is goed. |
40 | Gewis, ek het ’n begeerte tot u bevele; maak my lewend deur u geregtigheid. |
41 | En laat u goedertierenhede oor my kom, o HERE, u heil volgens u belofte, |
42 | sodat ek my smader iets kan antwoord, want ek vertrou op u woord. |
43 | En onttrek die woord van waarheid nie geheel en al aan my mond nie, want op u verordeninge wag ek. |
44 | Dan wil ek u wet altyddeur onderhou, vir ewig en altyd, |
45 | en in die ruimte wandel, want ek soek u bevele. |
46 | Ook wil ek voor konings van u getuienisse spreek en my nie skaam nie. |
47 | En ek wil my verlustig in u gebooie wat ek liefhet, |
48 | en my hande ophef na u gebooie wat ek liefhet, en u insettinge oordink. |
49 | Gedenk die woord aan u kneg, omdat U my laat hoop het. |
50 | Dit is my troos in my ellende, dat u belofte my lewend maak. |
51 | Vermeteles het baie met my gespot; van u wet het ek nie afgewyk nie. |
52 | Ek het gedink, o HERE, aan u oordele van ouds, en ek het my getroos. |
53 | Toorngloed het my aangegryp vanweë die goddelose wat u wet verlaat. |
54 | U insettinge was gesange vir my in die huis van my vreemdelingskap. |
55 | HERE, in die nag het ek gedink aan u Naam, en ek het u wet onderhou. |
56 | Dit het my deel geword, omdat ek u bevele bewaar het. |
57 | Die HERE is my deel; ek het gesê dat ek u woorde sal bewaar. |
58 | Ek het U van ganser harte om genade gesmeek; wees my genadig volgens u belofte. |
59 | Ek het my weë oordink en my voete laat teruggaan na u getuienisse. |
60 | Ek het my gehaas, en nie getalm nie, om u gebooie te onderhou. |
61 | Die strikke van die goddelose het my omring; u wet het ek nie vergeet nie. |
62 | Middernag staan ek op om U te loof vir u regverdige verordeninge. |
63 | Ek is ’n metgesel van almal wat U vrees, en van die wat u bevele onderhou. |
64 | HERE, die aarde is vol van u goedertierenheid; leer my u insettinge. |
65 | U het goed gedoen aan u kneg, HERE, na u woord. |
66 | Leer my ’n goeie insig en kennis, want ek glo aan u gebooie. |
67 | Voordat ek verdruk was, het ek gedwaal; maar nou onderhou ek u woord. |
68 | U is goed en doen goed; leer my u insettinge. |
69 | Vermeteles het my leuens toegedig; maar ék bewaar van ganser harte u bevele. |
70 | Hulle hart is ongevoelig soos vet; maar ék verlustig my in u wet. |
71 | Dit is goed vir my dat ek verdruk was, sodat ek u insettinge sou leer. |
72 | Die wet van u mond is vir my beter as duisende stukke goud en silwer. |
73 | U hande het my gemaak en my toeberei; maak my verstandig, dat ek u gebooie kan leer. |
74 | Die wat U vrees, sien my, en hulle is bly; want op u woord wag ek. |
75 | Ek weet, HERE, dat u oordele regverdig is en dat U my uit getrouheid verdruk het. |
76 | Laat tog u goedertierenheid wees om my te troos volgens u belofte aan u kneg. |
77 | Laat u barmhartighede oor my kom, dat ek kan lewe; want u wet is my verlustiging. |
78 | Laat die vermeteles beskaamd staan, omdat hulle sonder oorsaak my onregverdig behandel het; maar ék oordink u bevele. |
79 | Laat die wat U vrees, na my terugkeer, en die wat u getuienisse ken. |
80 | Laat my hart opreg wees in u insettinge, sodat ek nie beskaamd hoef te staan nie. |
81 | My siel smag na u heil; op u woord wag ek. |
82 | My oë smag na u belofte en sê: Wanneer sal U my vertroos? |
83 | Want ek het geword soos ’n leersak in die rook; u insettinge het ek nie vergeet nie. |
84 | Hoeveel sal die dae van u kneg wees? Wanneer sal U gerig oefen onder my vervolgers? |
85 | Vermeteles het vir my kuile gegrawe, hulle wat nie lewe na u wet nie. |
86 | Al u gebooie is waarheid; hulle vervolg my sonder oorsaak; help my! |
87 | Hulle het my amper vernietig op die aarde; maar ék het u bevele nie verlaat nie. |
88 | Maak my lewend na u goedertierenheid, dat ek die getuienis van u mond kan onderhou. |
89 | Vir ewig, o HERE, staan u woord vas in die hemele. |
90 | U trou is van geslag tot geslag; U het die aarde bevestig, en dit bly staan. |
91 | Volgens u verordeninge bly hulle vandag nog staan, want alle dinge is u knegte. |
92 | As u wet nie my verlustiging was nie, dan het ek omgekom in my ellende. |
93 | Ek sal u bevele tot in ewigheid nie vergeet nie, want deur hulle het U my lewend gemaak. |
94 | Aan U behoort ek: verlos my, want ek soek u bevele. |
95 | Die goddelose lê en wag op my, om my om te bring; ek gee ag op u getuienisse. |
96 | Aan alle volmaaktheid het ek ’n einde gesien, maar u gebod is baie wyd. |
97 | Hoe lief het ek u wet; dit is my bepeinsing die hele dag. |
98 | U gebooie maak my wyser as my vyande, want hulle is myne vir ewig. |
99 | Ek is verstandiger as al my leermeesters, want u getuienisse is my bepeinsing. |
100 | Ek het meer verstand as die ou mense, want ek bewaar u bevele. |
101 | Ek het my voete teruggehou van elke verkeerde pad, dat ek u woord kan bewaar. |
102 | Ek het van u verordeninge nie afgewyk nie, want Ú het my geleer. |
103 | Hoe soet is u beloftes vir my verhemelte, meer as heuning vir my mond. |
104 | Uit u bevele kry ek verstand; daarom haat ek elke leuenpad. |
105 | U woord is ’n lamp vir my voet en ’n lig vir my pad. |
106 | Ek het gesweer, en dit gehou, om u regverdige verordeninge te onderhou. |
107 | Ek is baie diep neergedruk; HERE, maak my lewend na u woord! |
108 | Laat tog die vrywillige offerandes van my mond U behaag, o HERE, en leer my u verordeninge. |
109 | My lewe is altyddeur in my hand; nogtans vergeet ek u wet nie. |
110 | Die goddelose het vir my ’n vangnet gespan; nogtans het ek van u bevele nie afgedwaal nie. |
111 | Ek het u getuienisse vir ewig as erfdeel ontvang, want hulle is die vreugde van my hart. |
112 | Ek het my hart geneig, om u insettinge te betrag, vir ewig, tot die einde toe. |
113 | Twyfelaars haat ek, maar u wet het ek lief. |
114 | U is my skuilplek en my skild; op u woord wag ek. |
115 | Gaan weg van my, kwaaddoeners, dat ek die gebooie van my God kan bewaar! |
116 | Ondersteun my volgens u belofte, dat ek kan lewe; en maak my nie beskaamd vanweë my hoop nie. |
117 | Steun my, dat ek verlos word; dan sal ek altyddeur op u insettinge let. |
118 | U verag almal wat van u insettinge afdwaal, want hulle bedrieëry is leuens. |
119 | U ruim al die goddelose van die aarde weg soos skuim; daarom het ek u getuienisse lief. |
120 | My vlees sidder van skrik vir U, en ek vrees vir u oordele. |
121 | Ek het reg en geregtigheid gedoen: gee my nie oor aan my verdrukkers nie. |
122 | Wees borg vir u kneg ten goede; laat vermeteles my nie verdruk nie. |
123 | My oë smag na u heil en na die belofte van u geregtigheid. |
124 | Handel met u kneg na u goedertierenheid, en leer my u insettinge. |
125 | Ek is u kneg; maak my verstandig, dat ek u getuienisse kan ken. |
126 | Dit is tyd vir die HERE om te handel: hulle het u wet verbreek. |
127 | Daarom het ek u gebooie lief, meer as goud, ja, as baie fyn goud. |
128 | Daarom hou ek al die bevele aangaande alles vir reg; elke leuenpad haat ek. |
129 | U getuienisse is wonderbaar; daarom bewaar my siel hulle. |
130 | Die opening van u woorde gee lig; dit maak die eenvoudiges verstandig. |
131 | Ek maak my mond wyd oop en hyg, want na u gebooie verlang ek. |
132 | Wend U tot my en wees my genadig volgens die reg van die wat u Naam liefhet. |
133 | Maak my voetstappe vas in u woord, en laat geen ongeregtigheid oor my heers nie. |
134 | Verlos my van die mens se verdrukking, sodat ek u bevele kan onderhou. |
135 | Laat u aangesig skyn oor u kneg, en leer my u insettinge. |
136 | My oë loop af in strome van water, omdat hulle u wet nie onderhou nie. |
137 | HERE, U is regverdig, en reg is u verordeninge. |
138 | In geregtigheid het U u getuienisse beveel en in louter trou. |
139 | My ywer verteer my, omdat my teëstanders u woorde vergeet het. |
140 | U woord is deur en deur gelouter, en u kneg het dit lief. |
141 | Ek is klein en verag, maar u bevele vergeet ek nie. |
142 | U geregtigheid is geregtigheid tot in ewigheid, en u wet is waarheid. |
143 | Benoudheid en angs het my getref, maar u gebooie is my verlustiging. |
144 | U getuienisse is geregtigheid tot in ewigheid; maak my verstandig, dat ek kan lewe. |
145 | Ek het geroep van ganser harte; verhoor my, o HERE! Ek wil u insettinge bewaar. |
146 | Ek het U aangeroep; verlos my, dat ek u getuienisse kan onderhou. |
147 | Voor die môreskemering roep ek om hulp; op u woord wag ek. |
148 | My oë is die nagwake voor om u woord te oordink. |
149 | Hoor my stem na u goedertierenheid; o HERE, maak my lewend volgens u verordeninge. |
150 | Hulle kom nader wat skandelike dade najaag, hulle wat ver van u wet af is. |
151 | U, o HERE, is naby, en al u gebooie is waarheid. |
152 | Lankal het ek geweet uit u getuienisse dat U hulle vir ewig gegrond het. |
153 | Sien my ellende aan en red my, want u wet vergeet ek nie. |
154 | Verdedig my regsaak en verlos my; maak my lewend volgens u belofte. |
155 | Die heil is ver van die goddelose, want hulle soek u insettinge nie. |
156 | HERE, u barmhartighede is menigvuldig; maak my lewend volgens u verordeninge. |
157 | My vervolgers en my teëstanders is talryk; van u getuienisse wyk ek nie af nie. |
158 | Ek het diegene gesien wat troueloos handel, en dit het my gewalg dat hulle u woord nie onderhou nie. |
159 | Aanskou dat ek u bevele liefhet; o HERE, maak my lewend na u goedertierenheid. |
160 | Die hele inhoud van u woord is waarheid, en al u regverdige verordeninge is tot in ewigheid. |
161 | Vorste het my sonder oorsaak vervolg, maar my hart vrees vir u woord. |
162 | Ek is vrolik oor u belofte soos een wat ’n groot buit vind. |
163 | Leuens haat ek en het daar ’n afsku van; u wet het ek lief. |
164 | Ek loof u sewe maal elke dag oor u regverdige verordeninge. |
165 | Die wat u wet liefhet, het groot vrede, en vir hulle is daar geen struikelblok nie. |
166 | O HERE, ek hoop op u heil, en ek hou u gebooie. |
167 | My siel onderhou u getuienisse, en ek het hulle baie lief. |
168 | Ek onderhou u bevele en u getuienisse, want al my weë is voor U. |
169 | O HERE, laat my smeking nader kom voor u aangesig; maak my verstandig volgens u woord. |
170 | Laat my smeking voor u aangesig kom; red my volgens u belofte. |
171 | My lippe sal lofsange laat uitstroom, want U leer my u insettinge. |
172 | My tong sal u woord besing, want al u gebooie is geregtigheid. |
173 | Laat u hand my tot hulp wees, want ek het u bevele verkies. |
174 | O HERE, ek verlang na u heil, en u wet is my verlustiging. |
175 | Laat my siel lewe, dat dit U kan loof; en laat u gerigte my help. |
176 | Ek het gedwaal soos ’n verlore skaap; soek u kneg, want u gebooie vergeet ek nie. |