| 1 | ’n PSALM van Dawid. Die aarde behoort aan die HERE en die volheid daarvan, die wêreld en die wat daarin woon; |
| 2 | want Hý het dit gegrond op die seë en dit vasgestel op die strome. |
| 3 | Wie mag klim op die berg van die HERE? En wie mag staan in sy heilige plek? |
| 4 | Hy wat rein van hande en suiwer van hart is, wat sy siel nie ophef tot nietigheid en nie vals sweer nie. |
| 5 | Hy sal seën wegdra van die HERE en geregtigheid van die God van sy heil. |
| 6 | Dit is die geslag van hulle wat na Hom vra, wat u aangesig soek — dit is Jakob. Sela. |
| 7 | Hef op julle hoofde, o poorte, ja, verhef julle, ewige deure, dat die Erekoning kan ingaan! |
| 8 | Wie is tog die Erekoning? Die HERE, sterk en geweldig, die HERE geweldig in die stryd. |
| 9 | Hef op julle hoofde, o poorte, ja, hef op, ewige deure, dat die Erekoning kan ingaan! |
| 10 | Wie is dan tog die Erekoning? Die HERE van die leërskare — Hy is die Erekoning! Sela. |