| 1 | ’n LIED. ’n Psalm van die kinders van Korag. |
| 2 | Die HERE is groot en baie lofwaardig in die stad van onse God, sy heilige berg! |
| 3 | Skoon deur sy verhewenheid, die vreugde van die hele aarde is die berg Sion, aan die noordekant, die stad van die groot Koning! |
| 4 | God het Hom in sy paleise bekend gemaak as ’n rotsvesting. |
| 5 | Want kyk, die konings het bymekaargekom, tesame opgetrek. |
| 6 | Skaars het hulle dit gesien, of hulle het verstom, verskrik geword, in angs weggevlug. |
| 7 | Bewing het hulle daar aangegryp, smart soos van een wat baar. |
| 8 | Deur die oostewind verbreek U die skepe van Tarsis. |
| 9 | Soos ons gehoor het, so het ons gesien in die stad van die HERE van die leërskare, in die stad van onse God: God sal dit bevestig tot in ewigheid. Sela. |
| 10 | O God, ons dink aan u goedertierenheid binne-in u tempel. |
| 11 | Soos u Naam, o God, so is u roem tot die eindes van die aarde toe; u regterhand is vol geregtigheid. |
| 12 | Laat die berg Sion bly wees, laat die dogters van Juda juig oor u oordele. |
| 13 | Gaan rondom Sion, trek daaromheen, tel sy torings; |
| 14 | let op sy skanse, wandel deur sy paleise, sodat julle dit aan die volgende geslag kan vertel, |
| 15 | dat hierdie God onse God is, vir ewig en altyd; Hý sal ons lei tot die dood toe. |