1 | VIR die musiekleier. Van die kinders van Korag. ’n Psalm. |
2 | Hoor dit, alle volke, luister, alle bewoners van die wêreld, |
3 | geringes sowel as aansienlikes, tesame ryk en arm! |
4 | My mond sal louter wysheid spreek, en die oordenking van my hart is net verstand. |
5 | Ek sal my oor neig tot ’n spreuk; ek sal my raaisel verklaar by die siter. |
6 | Waarom sou ek vrees in dae van onheil, as die ongeregtigheid van my onderkruipers my omring — |
7 | die wat vertrou op hulle vermoë en hulle beroem op die grootheid van hulle rykdom? |
8 | Niemand kan ooit ’n broer loskoop nie; hy kan aan God sy losprys nie gee nie |
9 | (want die losprys van hulle lewe is te kosbaar en vir ewig ontoereikend), |
10 | dat hy vir ewig sou voortlewe, die vernietiging nie sou sien nie. |
11 | Want hy sien: wyse manne sterwe, die dwaas en die onverstandige kom tesame om en laat hulle vermoë aan ander na. |
12 | Hulle binneste gedagte is: hul huise sal vir ewig wees, hul wonings van geslag tot geslag; hulle noem die lande na hul name. |
13 | Maar die mens wat in aansien is, hou nie stand nie; hy is soos die diere wat vergaan. |
14 | Dit is die weg van die wat op hulleself vertrou, en van hulle volgelinge wat in hul woorde ’n behae het. Sela. |
15 | Soos skape word hulle bestem vir die doderyk; die dood is hulle herder, en die opregtes heers oor hulle in die môre; en hulle gestalte is daar vir die doderyk om te verteer, sodat daarvoor geen woning meer is nie. |
16 | Maar God sal my siel loskoop van die mag van die doderyk, want Hy sal my opneem. Sela. |
17 | Wees nie bevrees as ’n man ryk word, as die rykdom van sy huis groot word nie; |
18 | want by sy dood sal hy van alles niks saamneem nie; sy heerlikheid sal nie neerdaal agter hom aan nie. |
19 | Al ag hy homself gelukkig in sy lewe — en prys hulle jou, omdat jy aan jouself goed doen — |
20 | tog gaan sy siel na die geslag van sy vaders; tot in ewigheid sal hulle die lig nie sien nie. |
21 | Die mens wat in aansien is en geen verstand het nie, is soos die diere wat vergaan. |