| 1 | ’n PSALM van Asaf. Waarlik, God is goed vir Israel, vir die wat rein van hart is. |
| 2 | Maar wat my aangaan, my voete het amper gestruikel, my voetstappe het byna uitgegly. |
| 3 | Want ek was afgunstig op die onsinniges toe ek die voorspoed van die goddelose mense sien. |
| 4 | Want daar is geen kwellings by hulle nie, gesond en vet is hulle liggaam. |
| 5 | In die moeite van sterwelinge is hulle nie, en saam met ander mense word hulle nie geplaag nie. |
| 6 | Daarom is die trots om hulle soos ’n halssieraad, die geweld bedek hulle soos ’n gewaad. |
| 7 | Hulle oë puil uit van vet; die inbeeldinge van die hart loop oor. |
| 8 | Hulle spot en spreek in boosheid verdrukking; hulle spreek uit die hoogte. |
| 9 | Hulle stel hul mond teen die hemel, en hul tong wandel op die aarde. |
| 10 | Daarom draai hulle mense hul hierheen, en waters in volheid word deur hulle geslurp. |
| 11 | En hulle sê: Hoe sou God dit weet, en sou daar kennis by die Allerhoogste wees? |
| 12 | Kyk, so is die goddelose mense, en altyd onbesorg vermeerder hulle die rykdom! |
| 13 | Waarlik, tevergeefs het ek my hart rein gehou en my hande in onskuld gewas. |
| 14 | Die hele dag tog is ek geslaan, en my tugtiging was daar elke môre. |
| 15 | As ek gesê het: Ek wil óók so spreek — dan sou ek ontrou gewees het aan die geslag van u kinders! |
| 16 | Toe het ek nagedink om dit te verstaan, maar dit was moeite in my oë, |
| 17 | totdat ek in die heiligdomme van God ingegaan en op hulle einde gelet het. |
| 18 | Waarlik, U stel hulle op gladde plekke; U laat hulle in puin val. |
| 19 | Hoe word hulle in ’n oomblik ’n voorwerp van verbasing, vergaan hulle, raak hulle tot niet deur verskrikkinge! |
| 20 | Soos ’n droom nadat ’n mens wakker word, o Here, so verag U, as U opwaak, hulle beeld! |
| 21 | Toe my hart bitter gestemd en ek in my niere geprikkel was, |
| 22 | toe was ék dom en het niks geweet nie; ek was ’n dier by U. |
| 23 | Nogtans is ek altyddeur by U; U het my regterhand gevat. |
| 24 | U sal my lei deur u raad en my daarna in heerlikheid opneem. |
| 25 | Wie het ek buiten U in die hemel? Buiten U begeer ek ook niks op die aarde nie. |
| 26 | Al beswyk my vlees en my hart — God is die rots van my hart en my deel tot in ewigheid. |
| 27 | Want kyk, die wat hulle ver van U af hou, vergaan; U roei almal uit wat van U afhoereer. |
| 28 | Maar wat my aangaan, dit is vir my goed om naby God te wees; in die Here HERE het ek my toevlug gestel, om al u werke te vertel. |