| 1 | VAN Salomo. O God, gee aan die koning u regte en u geregtigheid aan die seun van die koning. |
| 2 | Laat hy u volk oordeel met geregtigheid en u ellendiges met reg. |
| 3 | Die berge sal vrede dra vir die volk, en die heuwels, deur geregtigheid. |
| 4 | Hy sal aan die ellendiges van die volk reg verskaf, die kinders van die behoeftige verlos en die verdrukker verbrysel. |
| 5 | Hulle sal u vrees solank as die son skyn en solank as die maan daar is, van geslag tot geslag. |
| 6 | Hy sal neerdaal soos reën op die grasveld, soos buie — ’n swaar reën op die aarde. |
| 7 | In sy dae sal die regverdige bloei en volheid van vrede, totdat die maan nie meer is nie. |
| 8 | En hy sal heers van see tot see en van die Rivier tot by die eindes van die aarde. |
| 9 | Die bewoners van dor plekke sal voor hom kniel, en sy vyande sal die stof lek. |
| 10 | Die konings van Tarsis en van die eilande sal geskenke aanbied, die konings van Skeba en Seba belasting aanbring. |
| 11 | Ja, al die konings sal hulle voor hom buig, al die nasies sal hom dien. |
| 12 | Want hy sal die behoeftige red wat daar roep om hulp, en die ellendige en wie geen helper het nie. |
| 13 | Hy sal hom ontferm oor die arme en behoeftige, en die siele van die behoeftiges sal hy red. |
| 14 | Hy sal hulle siel verlos van verdrukking en geweld, en hulle bloed sal kosbaar wees in sy oë. |
| 15 | Mag hy dan lewe! en mag hulle aan hom gee van die goud van Skeba en altyddeur vir hom bid; mag hulle die hele dag hom seën! |
| 16 | Mag daar volheid van koring wees in die land, op die top van die berge; mag die vrug daarvan ruis soos die Líbanon; en mag hulle bloei uit die stad soos die plante van die aarde! |
| 17 | Mag sy naam vir ewig wees; mag sy naam uitspruit solank as die son daar is! En mag al die nasies in hom geseën word, hom gelukkig prys! |
| 18 | Geloofd sy die HERE God, die God van Israel, wat alleen wonders doen! |
| 19 | En geloofd sy vir ewig sy heerlike Naam! En laat die hele aarde met sy heerlikheid vervul word! Amen, ja amen. |
| 20 | Hier eindig die gebede van Dawid, die seun van Ísai. |