| 1 | BY U, o HERE, skuil ek: laat my nie vir altyd beskaamd staan nie! |
| 2 | Red my deur u geregtigheid en bevry my; neig u oor tot my en verlos my! |
| 3 | Wees vir my ’n rots om in te woon, om gedurig in te gaan; U wat bevel gegee het om my te verlos, want U is my rots en my bergvesting. |
| 4 | My God, red my uit die hand van die goddelose, uit die mag van hom wat onreg doen, en van die geweldenaar. |
| 5 | Want U is my verwagting, Here HERE, my vertroue van my jeug af. |
| 6 | Op U het ek gesteun van die geboorte af, van die moederskoot af is U my bevryder; oor U is my lof altyddeur. |
| 7 | Ek was vir baie soos ’n wonder; maar U is my magtige toevlug. |
| 8 | My mond is vol van u lof, die hele dag van u roem. |
| 9 | Verwerp my nie in die tyd van die ouderdom nie, verlaat my nie as my krag gedaan is nie. |
| 10 | Want my vyande praat van my, en die wat op my lewe loer, hou saam raad |
| 11 | en sê: God het hom verlaat; agtervolg en gryp hom, want daar is geen redder nie! |
| 12 | o God, wees nie ver van my af nie; my God, maak tog gou om my te help! |
| 13 | Laat hulle wat my as vyand behandel, beskaamd staan, verteer word; laat hulle wat my ongeluk soek, hulleself toedraai in smaad en skande. |
| 14 | Maar ék sal altyddeur hoop en al u lof vermeerder. |
| 15 | My mond sal u geregtigheid vertel, die hele dag u heil; want ek ken nie die maat daarvan nie. |
| 16 | Ek sal kom met die magtige dade van die Here HERE; ek sal u geregtigheid vermeld, dié van U alleen. |
| 17 | O God, U het my geleer van my jeug af, en tot nou toe verkondig ek u wonders. |
| 18 | En ook tot die ouderdom en die grysheid toe — o God, verlaat my nie, totdat ek aan die volgende geslag u arm verkondig, aan almal wat sal kom, u mag. |
| 19 | Ook is u geregtigheid, o God, tot in die hoogte; U wat groot dinge gedoen het, o God, wie is soos U? |
| 20 | U wat my baie en bange node laat sien het, sal my weer lewend maak en my weer ophaal uit die watervloede van die aarde. |
| 21 | Vermeerder my grootheid, en wend U om en troos my. |
| 22 | So wil ek U dan ook loof met die instrument van die harp, u trou, my God! Ek wil psalmsing tot u eer op die siter, o Heilige van Israel! |
| 23 | My lippe sal jubel as ek psalmsing tot u eer, en my siel, wat U verlos het. |
| 24 | Ook sal my tong u geregtigheid die hele dag prys, want hulle het beskaamd gestaan, want hulle wat my ongeluk soek, het rooi van skaamte geword. |