| 1 | SING tot eer van die HERE ’n nuwe lied; sing voor die HERE, o ganse aarde! |
| 2 | Sing tot eer van die HERE, loof sy Naam, verkondig sy heil van dag tot dag. |
| 3 | Vertel onder die nasies sy eer, onder al die volke sy wonders. |
| 4 | Want die HERE is groot en baie lofwaardig; Hy is gedug bo al die gode. |
| 5 | Want al die gode van die volke is afgode, maar die HERE het die hemele gemaak. |
| 6 | Majesteit en heerlikheid is voor sy aangesig, sterkte en sieraad in sy heiligdom. |
| 7 | Gee aan die HERE, o geslagte van die volke, gee aan die HERE eer en sterkte. |
| 8 | Gee aan die HERE die eer van sy Naam, bring offers en kom in sy voorhowe. |
| 9 | Aanbid die HERE in heilige gewaad; beef voor sy aangesig, o ganse aarde! |
| 10 | Sê onder die volke: Die HERE is Koning! Ook staan die wêreld vas, sodat dit nie wankel nie. Hy sal die volke regverdig oordeel. |
| 11 | Laat die hemele bly wees en die aarde juig; laat die see en sy volheid bruis. |
| 12 | Laat die veld juig en al wat daarin is; dan sal al die bome van die bos jubel |
| 13 | voor die aangesig van die HERE; want Hy kom, want Hy kom om die aarde te oordeel; Hy sal die wêreld oordeel in geregtigheid en die volke in sy trou. |