| 1 | WAAR het u beminde heengegaan, o skoonste onder die vroue? Waarheen het u beminde hom gewend, dat ons hom saam met u kan soek? |
| 2 | My beminde het afgeloop na sy tuin, na die balsembeddings om hom te vermaak in die tuine en om lelies te versamel. |
| 3 | Ek is my beminde s’n, en my beminde is myne — hy wat herder is onder die lelies. |
| 4 | Mooi is u, my vriendin, soos Tirsa, lieflik soos Jerusalem, verskriklik soos slagordes met vaandels. |
| 5 | Draai u oë van my af weg, want hulle verskrik my; u hare is soos ’n kudde bokke wat van Gílead afgolf. |
| 6 | U tande is soos ’n kudde skaapooie wat van die drinkplek af opkom, wat almal tweelinge het, en geeneen onder hulle is sonder lam nie. |
| 7 | U slape is soos ’n granaatskyf deur u sluier heen. |
| 8 | Daar is sestig koninginne en tagtig byvroue en jonkvroue sonder getal. |
| 9 | Een, dié is my duif, my volmaakte, die enigste vir haar moeder; sy is die uitverkorene vir die een wat haar gebaar het. Die dogters het haar gesien en haar gelukkig geprys, die koninginne en die byvroue, en haar geroem: |
| 10 | Wie is dit wat daar opkom soos die dageraad, mooi soos die maan, rein soos die son, verskriklik soos slagordes met vaandels? |
| 11 | Ek het afgeloop na die neutetuin om te kyk na die uitspruitsels in die dal, om te kyk of die wingerdstok uitloop, die granate blom. |
| 12 | Voordat ek dit geweet het, het my verlange my verplaas op die waens van my edele volk. |
| 13 | Kom terug, kom terug, Sulammitiese, kom terug, kom terug, dat ons u kan aansien. Wat sien julle aan die Sulammitiese? Iets soos die koordans van Mahanáim. |