II Konings Chapter 15

II Konings Chapter 15

1IN die sewen-en-twintigste jaar van Jeróbeam, die koning van Israel, het Asárja, die seun van Amásia, die koning van Juda, koning geword.
2Hy was sestien jaar oud toe hy koning geword het, en twee-en-vyftig jaar het hy in Jerusalem geregeer; en die naam van sy moeder was Jególja, van Jerusalem.
3En hy het gedoen wat reg was in die oë van die HERE, net soos sy vader Amásia gedoen het.
4Net die hoogtes is nie afgeskaf nie; die volk het nog geoffer en op die hoogtes rook laat opgaan.
5En die HERE het die koning aangetas, sodat hy melaats was tot die dag van sy dood toe; en hy het in ’n afgesonderde huis gewoon, terwyl Jotam, die seun van die koning, oor die paleis was en reg gespreek het oor die volk van die land.
6En die verdere geskiedenis van Asárja en alles wat hy gedoen het, is dit nie beskrywe in die Kroniekboek van die konings van Juda nie?
7En Asárja het ontslaap met sy vaders, en hy is begrawe by sy vaders in die stad van Dawid; en sy seun Jotam het in sy plek koning geword.
8IN die agt-en-dertigste jaar van Asárja, die koning van Juda, het Sagaría, die seun van Jeróbeam, oor Israel koning geword in Samaría — ses maande lank.
9En hy het gedoen wat verkeerd was in die oë van die HERE soos sy vaders gedoen het; hy het nie afgewyk van die sondes van Jeróbeam, die seun van Nebat, wat Israel laat sondig het nie.
10En Sallum, die seun van Jabes, het ’n sameswering teen hom gesmee en hom voor die oë van die volk verslaan en hom gedood en in sy plek koning geword.
11En die verdere geskiedenis van Sagaría, kyk, dit is beskrywe in die Kroniekboek van die konings van Israel.
12Dit was die woord van die HERE wat Hy tot Jehu gespreek het, naamlik: Seuns van die vierde geslag sal vir jou op die troon van Israel sit. En dit was so.
13Sallum, die seun van Jabes, het in die negen-en-dertigste jaar van Ussía, die koning van Juda, koning geword en ’n maand lank in Samaría geregeer.
14Daarna het Menáhem, die seun van Gadi, van Tirsa opgetrek en in Samaría gekom en Sallum, die seun van Jabes, in Samaría verslaan en hom gedood en in sy plek koning geword.
15En die verdere geskiedenis van Sallum en sy sameswering wat hy gesmee het, kyk, dit is beskrywe in die Kroniekboek van die konings van Israel.
16Toe het Menáhem Tifsag verslaan met almal wat daarin was, en die grondgebied daarvan, van Tirsa af; omdat hulle nie vir hom oopgemaak het nie; hy het dit verslaan en al die swanger vroue daarvan laat oopsny.
17In die negen-en-dertigste jaar van Asárja, die koning van Juda, het Menáhem, die seun van Gadi, koning oor Israel geword in Samaría — tien jaar lank.
18En hy het gedoen wat verkeerd was in die oë van die HERE; hy het al sy dae nie afgewyk van die sondes van Jeróbeam, die seun van Nebat, wat Israel laat sondig het nie.
19Pul, die koning van Assirië, het die land oorval, en Menáhem het aan Pul duisend talente silwer gegee, dat sy hande met hom sou wees om die koningskap in sy hand te versterk.
20En Menáhem het oor Israel, al die persone van vermoë, die geld verdeel om dit aan die koning van Assirië te gee: vyftig sikkels silwer vir elke man; toe het die koning van Assirië omgedraai en nie daar in die land gebly nie.
21En die verdere geskiedenis van Menáhem en alles wat hy gedoen het, is dit nie beskrywe in die Kroniekboek van die konings van Israel nie?
22En Menáhem het ontslaap met sy vaders, en sy seun Pekáhia het in sy plek koning geword.
23In die vyftigste jaar van Asárja, die koning van Juda, het Pekáhia, die seun van Menáhem, koning oor Israel geword in Samaría — twee jaar lank.
24En hy het gedoen wat verkeerd was in die oë van die HERE; hy het nie afgewyk van die sondes van Jeróbeam, die seun van Nebat, wat Israel laat sondig het nie.
25En Peka, die seun van Remália, sy adjudant, het ’n sameswering teen hom gesmee en hom in Samaría in die vesting van die koning se huis verslaan saam met Argob en met Arje; en vyftig man uit die kinders van die Gileadiete was saam met hom; en hy het hom gedood en in sy plek koning geword.
26En die verdere geskiedenis van Pekáhia en alles wat hy gedoen het, kyk, dit is beskrywe in die Kroniekboek van die konings van Israel.
27In die twee-en-vyftigste jaar van Asárja, die koning van Juda, het Peka, die seun van Remália, koning geword oor Israel in Samaría — twintig jaar lank.
28En hy het gedoen wat verkeerd was in die oë van die HERE; hy het nie afgewyk van die sondes van Jeróbeam, die seun van Nebat, wat Israel laat sondig het nie.
29In die dae van Peka, die koning van Israel, het Tiglat-Piléser, die koning van Assirië, gekom en Ijon ingeneem en Abel-Bet-Máäga en Janóag en Kedes en Hasor en Gílead en Galiléa, die hele land Náftali; en hy het hulle in ballingskap weggevoer na Assirië toe.
30En Hoséa, die seun van Ela, het ’n sameswering gesmee teen Peka, die seun van Remália, en hom verslaan en hom gedood en in sy plek koning geword, in die twintigste jaar van Jotam, die seun van Ussía.
31En die verdere geskiedenis van Peka en alles wat hy gedoen het, kyk, dit is beskrywe in die Kroniekboek van die konings van Israel.
32IN die tweede jaar van Peka, die seun van Remália, die koning van Israel, het Jotam, die seun van Ussía, die koning van Juda, koning geword.
33Vyf-en-twintig jaar was hy oud toe hy koning geword het, en sestien jaar het hy in Jerusalem geregeer; en die naam van sy moeder was Jerúsa, die dogter van Sadok.
34En hy het gedoen wat reg was in die oë van die HERE; net soos sy vader Ussía gedoen het, het hy gedoen.
35Net die hoogtes is nie afgeskaf nie; die volk het nog op die hoogtes geoffer en rook laat opgaan; dit is hy wat die Boonste Poort van die huis van die HERE gebou het.
36En die verdere geskiedenis van Jotam en alles wat hy gedoen het, is dit nie beskrywe in die Kroniekboek van die konings van Juda nie?
37In dié dae het die HERE Resin, die koning van Aram, en Peka, die seun van Remália, teen Juda begin stuur.
38En Jotam het ontslaap met sy vaders en is begrawe by sy vaders in die stad van sy vader Dawid; en sy seun Agas het in sy plek koning geword.

II Konings Chapter 14II Konings Chapter 16