Jesaja Chapter 15

Jesaja Chapter 15

1GODSPRAAK oor Moab. Waarlik, in die nag is Ar-Moab verwoes, vernietig! Waarlik, in die nag is Kir-Moab verwoes, vernietig!
2Hulle gaan op na die tempel, en Dibon na die hoogtes om te ween; Moab huil op Nebo en in Medéba; op al hulle hoofde is ’n kaalte, elke baard is afgeskeer.
3Op hul strate het hulle rouklere aangegord; op hulle dakke en op hulle pleine huil alles en smelt weg in geween.
4Hesbon en Eleále skreeu, hulle stem word gehoor tot Jahas toe; daarom hef die gewapende manne van Moab ’n angsgeskreeu aan, sy siel sidder.
5My hart skreeu oor Moab, sy vlugtelinge kom tot by Soar, Eglat-Selísia. Want die hoogte van Luhit beklim hulle met geween; ja, op pad na Horonáim laat hulle ’n geskreeu van verwoesting weerklink;
6want die waters van Nimrim word ’n woesteny, ja, die gras is verdor, die grasspruitjies het vergaan, daar is geen groenigheid nie.
7Daarom gaan hulle die oorwins wat hulle gemaak het, en hulle voorraad, oor die Wilgerspruit dra.
8Want die geskreeu gaan rond in die grondgebied van Moab, sy gehuil tot by Eglaim en sy gehuil tot by Beër-Elim.
9Want die waters van Dimon is vol bloed; want Ek sal oor Dimon nog meer bring, ’n leeu oor dié van Moab wat ontvlug het, en oor die oorblyfsel van die land.

Jesaja Chapter 14Jesaja Chapter 16