Job Chapter 21

Job Chapter 21

1MAAR Job het geantwoord en gesê:
2Luister goed na my rede, en laat dit die vertroostinge wees wat julle aanbied.
3Verdra my, dat ek ook kan spreek; en nadat ek gespreek het, kan jy spot.
4Wat my aangaan, geld my geklaag dan ’n mens? Of waarom sou ek nie ongeduldig word nie?
5Kyk my aan, en wees verskrik; en lê die hand op die mond.
6JA, as ek daaraan dink, is ek glad verslae, en verskrikking gryp my vlees aan.
7Waarom bly die goddelose lewe, word hulle oud, ja, neem hulle toe in krag?
8Hulle nakomelinge bestaan voor hulle in hul gemeenskap, en hul spruite voor hulle oë.
9Hul huise het vrede, sonder skrik; en die roede van God is op hulle nie.
10Sy stier bespring en mis nie; sy koei kalf en het geen misdrag nie.
11Hulle laat hul jong seuns loop soos ’n trop kleinvee, en hul kinders spring rond.
12Hulle sing by die tamboeryn en siter en is bly by die klank van die fluit.
13In voorspoed slyt hulle hul dae, en in ’n oomblik sink hulle in die doderyk af.
14Tog het hulle tot God gesê: Bly ver van ons af; en: In die kennis van u weë het ons geen behae nie.
15Wat is die Almagtige dat ons Hom sou dien? En wat baat dit ons dat ons biddend by Hom aandring?
16(Kyk, hulle voorspoed is nie in húl hand nie: die gesindheid van die goddelose is ver van my!)
17Hoe selde gaan die lamp van die goddelose dood en oorval hul ondergang hulle! Deel Hy smarte uit in sy toorn,
18word hulle soos strooi voor die wind, en soos kaf wat die stormwind wegvoer?
19JULLE sê: God spaar sy onheil vir sy kinders op. Ek sê: Hy moes dit aan homself vergeld, dat hy kan voel!
20Sy eie oë moes sy ongeluk sien, en sélf moes hy drink van die grimmigheid van die Almagtige.
21Want wat gee hy om sy huis ná hom as die getal van sy maande afgesny is?
22WIL iemand aan God kennis leer, Hom wat die hemelse wesens oordeel?
23Die een sterwe in volkome geluk, heeltemal gerus en tevrede.
24Sy emmers is vol melk, en die murg van sy gebeente word deur en deur bevogtig.
25Die ander daarenteen sterwe met bitterheid van siel sonder dat hy van die goeie geniet het.
26Saam lê hulle in die stof, en die wurms oordek hulle.
27Kyk, ek ken julle gedagtes en die slim planne waarmee julle gewelddadig teen my optree.
28As julle sê: Waar is die huis van die tiran, en waar die woontent van die goddelose —
29het julle dan nie navraag gedoen by die reisigers nie (hulle bewyse kan julle tog nie loën nie!):
30dat die kwaaddoeners gespaar word op die dag van ondergang, dat hulle weggelei word op die dag van grimmigheid?
31Wie gee hom openlik sy gedrag te kenne; en het hy gehandel — wie sal hom dit vergeld?
32Dan word hy na die graf gebring, en hulle sorg vir sy grafheuwel.
33Sag lê op hom die kluite van die dal; en agter hom trek al die mense aan soos daar ontelbares voor hom gewees het.
34Hoe troos julle my dan op so ’n nietige manier? En julle antwoorde — net troubreuk bly oor!

Job Chapter 20Job Chapter 22