| 1 | ’n PSALM van Dawid toe hy gevlug het vir sy seun Absalom. |
| 2 | O HERE, hoe het my teëstanders vermenigvuldig! Baie staan teen my op. |
| 3 | Baie sê van my: Daar is geen heil vir hom by God nie. Sela. |
| 4 | Maar U, HERE, is ’n skild wat my beskut, my eer en die Een wat my hoof ophef. |
| 5 | Luid roep ek die HERE aan, en Hy verhoor my van sy heilige berg. Sela. |
| 6 | Ek het gaan lê en aan die slaap mag raak; ek het wakker geword, want die HERE ondersteun my. |
| 7 | Ek sal nie vrees vir tienduisende van mense wat rondom teen my gereed staan nie. |
| 8 | Staan op, HERE; verlos my, my God! Want U het al my vyande op die kakebeen geslaan; U het die tande van die goddelose stukkend gebreek. |
| 9 | Die heil behoort aan die HERE; laat u seën wees oor u volk! Sela. |