I Kronieke Chapter 10

I Kronieke Chapter 10

1EN die Filistyne het teen Israel geveg, en die manne van Israel het vir die Filistyne weggevlug, en gesneuweldes het op die gebergte Gilbóa gelê.
2En die Filistyne het Saul en sy seuns agternagesit, en die Filistyne het Jónatan en Abinádab en Malkisúa, die seuns van Saul, gedood.
3En toe die geveg swaar word teen Saul en die boogskutters hom aantref, het hy gebewe van angs vir die skutters.
4En Saul het aan sy wapendraer gesê: Trek jou swaard uit en deurboor my daarmee; anders kom hierdie onbesnedenes en dryf die spot met my. Maar sy wapendraer wou nie, omdat hy baie bevrees was. Daarop neem Saul die swaard en val daarin.
5Toe sy wapendraer sien dat Saul dood was, val hy self ook in die swaard, sodat hy gesterf het.
6So het Saul en sy drie seuns dan gesterwe; en sy hele huis, almal saam, het gesterwe.
7Toe al die manne van Israel wat in die vlakte was, sien dat hulle gevlug het, en dat Saul en sy seuns dood was, het hulle hul stede verlaat en gevlug; en die Filistyne het gekom en daarin gaan woon.
8En toe die Filistyne die volgende dag kom om die gesneuweldes te plunder, vind hulle Saul en sy seuns nog daar lê op die gebergte Gilbóa.
9En hulle het hom uitgetrek en sy hoof en sy wapens saamgeneem en dit in die land van die Filistyne rondgestuur om die blye boodskap vir hulle afgode en vir die volk te bring.
10Daarna het hulle sy wapens in die huis van hulle god neergelê en sy hoofskedel in die huis van Dagon vasgeslaan.
11Toe die hele Jabes in Gílead hoor alles wat die Filistyne aan Saul gedoen het,
12het al die dapper manne hulle gereedgemaak en die lyk van Saul en die lyke van sy seuns saamgeneem en dit na Jabes gebring en hulle bene begrawe onder die terpentynboom in Jabes, en sewe dae lank gevas.
13En Saul het gesterwe weens ontrou wat hy teen die HERE begaan het, weens die woord van die HERE wat hy nie gehou het nie; en ook omdat hy die gees van ’n afgestorwene om inligting gevra het,
14maar die HERE nie geraadpleeg het nie. Daarom het Hy hom omgebring en die koningskap laat oorgaan op Dawid, die seun van Ísai.

I Kronieke Chapter 9I Kronieke Chapter 11