I Kronieke Chapter 18

I Kronieke Chapter 18

1EN hierna het Dawid die Filistyne verslaan en hulle onderwerp; en hy het Gat met sy onderhorige plekke uit die hand van die Filistyne geneem.
2Hy het ook die Moabiete verslaan, sodat die Moabiete Dawid se belastingpligtige knegte geword het.
3Dawid het ook Hadaréser, die koning van Soba, na Hamat toe verslaan, toe hy getrek het om sy mag aan die Eufraatrivier te bevestig.
4En Dawid het van hom duisend strydwaens en seweduisend perderuiters en twintigduisend man voetgangers afgeneem; en Dawid het al die trekperde se hakskeensenings afgesny, maar honderd trekperde daarvan laat oorbly.
5En die Arameërs van Damaskus het gekom om Hadaréser, die koning van Soba, te help; maar Dawid het onder die Arameërs twee-en-twintigduisend man verslaan.
6En Dawid het wagposte in Aram-Damaskus geplaas, sodat die Arameërs Dawid se belastingpligtige knegte was; en die HERE het Dawid die oorwinning gegee oral waar hy getrek het.
7En Dawid het die goue skilde geneem wat die dienaars van Hadaréser gedra het, en dit na Jerusalem gebring.
8En uit Tibhat en uit Kun, stede van Hadaréser, het Dawid ontsaglik veel koper weggeneem; daarvan het Salomo die kopersee en die pilare en die kopergereedskappe gemaak.
9Toe Toü, die koning van Hamat, hoor dat Dawid die hele leërmag van Hadaréser, die koning van Soba, verslaan het,
10stuur hy sy seun Hadóram na koning Dawid om hom na die welstand te vra en hom geluk te wens dat hy teen Hadaréser geveg en hom verslaan het, want Hadaréser was ’n vyand van Toü. Ook allerhande goue en silwer- en kopervoorwerpe het hy saamgebring.
11Dit het koning Dawid ook aan die HERE geheilig saam met die silwer en die goud wat hy van al die nasies geneem het, van die Edomiete en van die Moabiete en van die kinders van Ammon en van die Filistyne en van die Amalekiete.
12Ook het Abísai, die seun van Serúja, die Edomiete in die Soutdal verslaan, agttienduisend.
13En hy het wagposte in Edom geplaas, sodat al die Edomiete knegte van Dawid geword het; en die HERE het Dawid die oorwinning gegee oral waar hy getrek het.
14En Dawid het oor die hele Israel geregeer en reg en geregtigheid aan sy hele volk gedoen.
15En Joab, die seun van Serúja, was oor die leër; en Jósafat, die seun van Ahílud, was kanselier.
16En Sadok, die seun van Ahítub, en Ahiméleg, die seun van Ábjatar, was priesters, en Sausa was skrywer.
17En Benája, die seun van Jójada, was oor die Kreti en die Pleti, en die oudste seuns van Dawid was in diens van die koning.

I Kronieke Chapter 17I Kronieke Chapter 19