I Kronieke Chapter 21

I Kronieke Chapter 21

1TOE het Satan teen Israel opgetree en Dawid aangehits om Israel te tel.
2En Dawid het aan Joab en die owerstes van die volk gesê: Gaan tel Israel van Berséba tot Dan, en bring vir my berig, dat ek hulle getal kan weet.
3En Joab sê: Mag die HERE by sy volk honderd maal meer byvoeg as wat hulle is; hulle is tog almal, my heer koning, my heer se dienaars. Waarom verlang my heer dit? Waarom moet Israel skuldig word?
4Maar die woord van die koning het die oorhand gehad oor Joab, en Joab het uitgetrek en die hele Israel deurgetrek en in Jerusalem aangekom.
5En Joab het die getal van die volkstelling aan Dawid gegee; en die hele Israel was elfhonderdduisend man wat die swaard uittrek, en Juda vierhonderd-en-sewentigduisend man wat die swaard uittrek.
6Maar Levi en Benjamin het hy nie onder hulle getel nie, want die woord van die koning was vir Joab ’n gruwel.
7En hierdie saak was verkeerd in die oë van God; daarom het Hy Israel swaar getref.
8Toe sê Dawid tot God: Ek het swaar gesondig, dat ek hierdie ding gedoen het; maar vergeef tog nou die skuld van u kneg, want ek het my baie besondig.
9En die HERE het met Gad, die siener van Dawid, gespreek en gesê:
10Gaan heen en spreek met Dawid en sê: So spreek die HERE: Drie dinge lê Ek jou voor; kies vir jou een daaruit, dat Ek dit aan jou kan doen.
11Toe kom Gad by Dawid en sê vir hom: So spreek die HERE: Kies vir jou
12òf drie jaar lank hongersnood, òf om drie maande lank om te kom vanweë jou teëstanders deurdat die swaard van jou vyande jou inhaal, òf drie dae lank die swaard van die HERE, naamlik pes in die land deurdat die engel van die HERE verderf aanrig in die hele grondgebied van Israel; oorweeg dan nou watter antwoord ek my Sender moet bring.
13Daarop sê Dawid vir Gad: Ek is baie benoud; laat my tog in die hand van die HERE val, want sy barmhartighede is baie groot, maar laat my in die hand van mense nie val nie.
14En die HERE het ’n pes onder Israel beskik, en van Israel het daar sewentigduisend man geval.
15En God het ’n engel na Jerusalem gestuur om dit te verwoes; en terwyl hy dit verwoes, het die HERE dit gesien, en dit het Hom berou oor die onheil, en Hy het aan die engel wat die verwoesting moes aanrig, gesê: Genoeg, trek nou jou hand terug! En die engel van die HERE het by die dorsvloer van Ornan, die Jebusiet, gestaan.
16Toe Dawid sy oë opslaan, sien hy die engel van die HERE staan tussen die aarde en die hemel met sy ontblote swaard in sy hand oor Jerusalem uitgestrek. Daarop val Dawid en die oudstes, met rouklere bedek, op hulle aangesig.
17En Dawid sê tot God: Is dit nie ék wat beveel het om die volk te tel nie? Ja, dit is ek wat gesondig en baie verkeerd gehandel het; maar hierdie skape, wat het hulle gedoen? HERE, my God, laat u hand tog teen my en my familie wees, maar nie as ’n plaag teen u volk nie.
18Daarop gee die engel van die HERE bevel aan Gad om aan Dawid te sê dat Dawid moet opgaan om vir die HERE ’n altaar op te rig op die dorsvloer van Ornan, die Jebusiet.
19En Dawid het opgegaan volgens die woord van Gad wat hy in die Naam van die HERE gespreek het.
20Toe Ornan hom omdraai, sien hy die engel; en sy vier seuns wat by hom was, het hulle weggesteek; Ornan het naamlik koring gedors.
21Toe Dawid by Ornan kom, het Ornan opgekyk en Dawid gesien, en hy het van die dorsvloer uitgegaan en hom voor Dawid met sy aangesig na die aarde gebuig.
22Daarop sê Dawid vir Ornan: Gee aan my die plek van die dorsvloer, dat ek daarop vir die HERE ’n altaar kan bou; gee dit aan my vir die volle geld, sodat die plaag van die volk afgewend kan word.
23Maar Ornan sê vir Dawid: Neem dit vir u, en laat my heer die koning doen wat goed is in sy oë; kyk, ek gee die beeste as brandoffers en die sleë as hout en die koring as ’n spysoffer; ek gee dit alles.
24Maar koning Dawid het vir Ornan gesê: Nee, maar ek wil dit verseker koop vir die volle geld; want ek wil nie wat aan jou behoort, vir die HERE neem, dat ek verniet ’n brandoffer sou bring nie.
25En Dawid het vir die plek seshonderd sikkels goud in gewig aan Ornan gegee.
26En Dawid het daar vir die HERE ’n altaar gebou en brandoffers en dankoffers gebring. Onderwyl hy die HERE aanroep, het Hy hom met vuur uit die hemel op die brandofferaltaar geantwoord.
27En die HERE het die engel beveel om sy swaard weer in die skede te steek.
28In dié tyd, toe Dawid sien dat die HERE hom geantwoord het op die dorsvloer van Ornan, die Jebusiet, het hy daar geoffer;
29want die tabernakel van die HERE wat Moses in die woestyn gemaak het, en die brandofferaltaar was in dié tyd op die hoogte in Gíbeon.
30En Dawid het nie daarvoor durf verskyn om God te soek nie, want hy was verskrik vanweë die swaard van die engel van die HERE.

I Kronieke Chapter 20I Kronieke Chapter 22