I Thessalonicense Chapter 5

I Thessalonicense Chapter 5

1MAAR oor die tye en geleenthede, broeders, het julle nie nodig dat aan julle geskryf word nie;
2want julle weet self baie goed dat die dag van die Here kom net soos ’n dief in die nag.
3Want wanneer hulle sê: Vrede en veiligheid — dan oorval ’n skielike verderf hulle soos die barensnood ’n swanger vrou, en hulle sal sekerlik nie ontvlug nie.
4Maar julle, broeders, is nie in duisternis, dat die dag julle soos ’n dief sou oorval nie.
5Julle is almal kinders van die lig en kinders van die dag; ons is nie van die nag of die duisternis nie.
6Laat ons dan nie slaap soos die ander nie, maar laat ons waak en nugter wees.
7Want die wat slaap, slaap in die nag; en die wat dronk word, is in die nag dronk.
8Maar laat ons wat van die dag is, nugter wees, met die borswapen van geloof en liefde aan, en as helm die hoop op die saligheid.
9Want God het ons nie bestem tot toorn nie, maar om die saligheid te verkry deur onse Here Jesus Christus
10wat vir ons gesterf het, sodat ons, of ons waak en of ons slaap, saam met Hom kan lewe.
11Daarom, bemoedig mekaar en bou die een die ander op, soos julle ook doen.
12MAAR ons vra julle, broeders, erken die wat onder julle arbei en julle voorgangers in die Here is en julle vermaan;
13en bewys hulle in liefde die hoogste agting ter wille van hulle werk. Hou vrede onder mekaar.
14En ons versoek julle, broeders, vermaan die onordelikes, bemoedig die kleinmoediges, ondersteun die swakkes, wees lankmoedig teenoor almal.
15Sorg dat niemand ’n ander kwaad vir kwaad vergeld nie; maar jaag altyd ná wat goed is, teenoor mekaar sowel as teenoor almal.
16Wees altyddeur bly.
17Bid sonder ophou.
18Wees in alles dankbaar, want dit is die wil van God in Christus Jesus oor julle.
19Blus die Gees nie uit nie.
20Verag die profesieë nie.
21Beproef alle dinge; behou die goeie.
22Onthou julle van elke vorm van kwaad.
23En mag Hy, die God van die vrede, julle volkome heilig maak, en mag julle gees en siel en liggaam geheel en al onberispelik bewaar word by die wederkoms van onse Here Jesus Christus!
24Hy wat julle roep, is getrou; Hy sal dit ook doen.
25Broeders, bid vir ons.
26Groet die broeders almal met ’n heilige kus.
27Ek besweer julle by die Here dat hierdie brief aan al die heilige broeders voorgelees word.
28Die genade van onse Here Jesus Christus sy met julle! Amen.

I Thessalonicense Chapter 4II Thessalonicense Chapter 1