II Thessalonicense Chapter 2

II Thessalonicense Chapter 2

1MAAR ons vra julle, broeders, met die oog op die wederkoms van onse Here Jesus Christus en ons vereniging met Hom,
2om nie gou julle verstand te verloor of verskrik te word nie — deur gees of deur woord of deur brief wat van ons afkomstig sou wees — asof die dag van Christus al daar is.
3Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval kom en die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die verderf,
4die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is.
5Onthou julle nie dat ek dit altyd vir julle gesê het toe ek nog by julle was nie?
6En nou, julle weet wat hom teëhou, sodat hy op sy tyd geopenbaar kan word.
7Want die verborgenheid van die ongeregtigheid is al aan die werk, net totdat hy wat nou teëhou, uit die weg geruim is;
8en dan sal die ongeregtige geopenbaar word, hy wat die Here met die asem van sy mond sal verdelg en deur die verskyning van sy wederkoms tot niet sal maak,
9hy wie se koms is volgens die werking van die Satan met allerhande kragtige dade en tekens en wonders van die leuen
10en met allerhande verleiding van ongeregtigheid in die wat verlore gaan, omdat hulle die liefde tot die waarheid nie aangeneem het om gered te word nie.
11En daarom sal God hulle die krag van die dwaling stuur, om die leuen te glo,
12sodat almal geoordeel kan word wat die waarheid nie geglo het nie, maar behae gehad het in die ongeregtigheid.
13Maar ons moet God altyd oor julle dank, broeders wat deur die Here bemin word, dat God julle van die begin af verkies het tot saligheid in heiligmaking van die Gees en geloof in die waarheid,
14waartoe Hy julle geroep het deur ons evangelie om die heerlikheid van onse Here Jesus Christus te verkry.
15So dan, broeders, staan vas en hou julle aan die voorskrifte wat julle geleer is òf deur ’n woord òf deur ’n brief van ons.
16En mag onse Here Jesus Christus self en onse God en Vader, wat ons liefgehad het en ’n ewige troos en goeie hoop in genade gegee het,
17julle harte vertroos en julle versterk in alle goeie woorde en werke!

II Thessalonicense Chapter 1II Thessalonicense Chapter 3