Handelinge Chapter 11

Handelinge Chapter 11

1EN die apostels en die broeders wat in Judéa was, het gehoor dat die heidene ook die woord van God aangeneem het.
2En toe Petrus opgaan na Jerusalem, het die wat uit die besnydenis was, met hom getwis
3en gesê: By onbesnede manne het jy in die huis gegaan en saam met hulle geëet.
4En Petrus het begin en vir hulle die loop van die saak uiteengesit en gesê:
5Ek was in die stad Joppe in die gebed, en in ’n verrukking van sinne het ek ’n gesig gesien: ’n voorwerp het uit die hemel neergedaal soos ’n groot laken wat aan die vier hoeke uit die hemel neergelaat word, en dit het tot by my gekom.
6En toe ek die oë daarop hou en dit waarneem, sien ek die viervoetige diere van die aarde en die wilde en die kruipende diere en die voëls van die hemel.
7En ek hoor ’n stem vir my sê: Staan op, Petrus, slag en eet!
8Maar ek antwoord: Nooit nie, Here, want niks onheiligs of onreins het ooit in my mond ingegaan nie.
9En die stem het die tweede keer my uit die hemel geantwoord: Wat God rein gemaak het, mag jy nie onheilig ag nie.
10En dit het drie maal gebeur en alles is weer opgetrek in die hemel.
11En dadelik staan daar drie manne voor die huis waar ek in was, wat van Cesaréa na my gestuur was.
12En die Gees het vir my gesê dat ek saam met hulle moes gaan sonder om te twyfel. En saam met my het ook hierdie ses broeders gegaan, en ons het in die huis van die man ingegaan.
13En hy het ons vertel hoe hy die engel in sy huis sien staan het en vir hom sê: Stuur manne na Joppe en laat vir Simon haal wat ook Petrus genoem word;
14hy sal woorde tot jou spreek waardeur jy en jou hele huis gered sal word.
15En toe ek begin spreek, het die Heilige Gees op hulle geval soos ook op ons in die begin.
16En ek het die woord van die Here onthou, hoe Hy gesê het: Johannes het met water gedoop, maar julle sal met die Heilige Gees gedoop word.
17As God dan aan hulle dieselfde gawe gegee het soos aan ons wat in die Here Jesus Christus geglo het, wie was ek dan, dat ek God kon verhinder?
18En toe hulle dit hoor, het hulle geswyg en God verheerlik en gesê: So het God dan ook aan die heidene die bekering tot die lewe geskenk.
19DIE wat dan verstrooi was deur die verdrukking wat oor Stéfanus ontstaan het, het die land deurgegaan tot by Fenícië en Ciprus en Antiochíë sonder om tot iemand die woord te spreek, behalwe tot die Jode alleen.
20En daar was sommige van hulle, Cipriese en Cirenése manne, wat in Antiochíë gekom het en met die Griekssprekende Jode gepraat en die evangelie van die Here Jesus verkondig het.
21En die hand van die Here was met hulle, en ’n groot getal het gelowig geword en hulle tot die Here bekeer.
22En die berig hiervan het die gemeente wat in Jerusalem was, ter ore gekom en hulle het Bárnabas afgestuur om die land deur te gaan tot by Antiochíë.
23Toe hy daar kom en die genade van God sien, was hy bly en het almal vermaan om met hartlike voorneme aan die Here getrou te bly;
24want hy was ’n goeie man en vol van die Heilige Gees en geloof; en ’n aansienlike skare is aan die Here toegebring.
25Toe vertrek Bárnabas na Tarsus om Saulus te soek, en toe hy hom kry, het hy hom na Antiochíë gebring.
26En hulle het ’n hele jaar lank in die gemeente saam vergader en aan ’n aansienlike skare onderwys gegee; en die dissipels is in Antiochíë vir die eerste keer Christene genoem.
27En in dié dae het daar profete van Jerusalem na Antiochíë afgekom.
28En een van hulle met die naam van Ágabus het opgestaan en deur die Heilige Gees te kenne gegee dat daar ’n groot hongersnood oor die hele wêreld sou kom, wat ook gekom het onder keiser Claudius.
29En die dissipels het besluit dat iedereen van hulle na sy vermoë iets sou stuur tot versorging van die broeders wat in Judéa woon.
30En dit het hulle ook gedoen en dit deur Bárnabas en Saulus aan die ouderlinge gestuur.

Handelinge Chapter 10Handelinge Chapter 12