Exodus Chapter 6

Exodus Chapter 6

1VERDER het God met Moses gespreek en vir hom gesê: Ek is die HERE.
2En Ek het aan Abraham, aan Isak en aan Jakob verskyn as God, die Almagtige, maar met my Naam HERE het Ek My nie aan hulle bekend gemaak nie.
3Ook het Ek my verbond met hulle opgerig om hulle die land Kanaän te gee, die land van hulle vreemdelingskap waarin hulle vertoef het;
4en Ék het ook gehoor die gekerm van die kinders van Israel wat deur die Egiptenaars in slawerny gehou word, en Ek het aan my verbond gedink.
5Daarom, sê aan die kinders van Israel: Ek is die HERE, en Ek sal julle onder die harde arbeid van die Egiptenaars uitlei en julle red uit hulle slawerny, en Ek sal julle verlos deur ’n uitgestrekte arm en deur groot strafgerigte;
6en Ek sal julle as my volk aanneem en vir julle ’n God wees. En julle sal erken dat Ek die HERE julle God is wat julle uitlei onder die harde arbeid van die Egiptenaars uit.
7En Ek sal julle bring in die land waaromtrent Ek my hand opgehef het, om dit aan Abraham, aan Isak en aan Jakob te gee; en Ek sal dit aan julle as ’n besitting gee, Ek, die HERE.
8Moses het toe so met die kinders van Israel gespreek, maar hulle het nie na Moses geluister nie, uit ongeduldigheid en weens die harde diens.
9Verder het die HERE met Moses gespreek en gesê:
10Gaan spreek met Farao, die koning van Egipte, dat hy die kinders van Israel uit sy land moet laat uittrek.
11Maar Moses het voor die aangesig van die HERE gespreek en gesê: As die kinders van Israel na my nie geluister het nie, hoe sal Farao dan na my luister terwyl ek onbesnede van lippe is?
12Daarop het die HERE met Moses en Aäron gespreek en hulle met ’n boodskap gestuur na die kinders van Israel en na Farao, die koning van Egipte, om die kinders van Israel uit Egipteland uit te lei.
13DIT is die hoofde van hulle families. Die seuns van Ruben, die eersgeborene van Israel: Henog en Pallu, Hesron en Karmi; dit is die geslagte van Ruben.
14En die seuns van Símeon: Jémuel en Jamin en Ohad en Jagin en Sohar en Saul, die seun van die Kanaänitiese vrou; dit is die geslagte van Símeon.
15En dit is die name van die seuns van Levi volgens hulle afstamming: Gerson en Kehat en Merári. En die lewensjare van Levi was honderd-sewen-en-dertig jaar.
16Die seuns van Gerson: Libni en Símeï volgens hulle geslagte.
17En die seuns van Kehat: Amram en Jishar en Hebron en Ússiël; en die lewensjare van Kehat was honderd-drie-en-dertig jaar.
18En die seuns van Merári: Magli en Musi. Dit is die geslagte van Levi volgens hulle afstamming.
19En Amram het Jogébed, sy tante, vir hom as vrou geneem, en sy het vir hom Aäron en Moses gebaar. En die lewensjare van Amram was honderd-sewen-en-dertig jaar.
20En die seuns van Jishar: Korag en Nefeg en Sigri.
21En die seuns van Ússiël: Mísael, Élsafan en Sitri.
22En Aäron het Eliséba, die dogter van Ammínadab, die suster van Nagson, vir hom as vrou geneem; en sy het vir hom gebaar: Nadab en Abíhu, Eleásar en Ítamar.
23En die seuns van Korag: Assir en Élkana en Abíasaf. Dit is die geslagte van die Koragiete.
24En Eleásar, die seun van Aäron, het vir hom een van die dogters van Pútiël as vrou geneem; en sy het vir hom Pínehas gebaar. Dit is die familiehoofde van die Leviete volgens hulle geslagte.
25Dit is Aäron en Moses aan wie die HERE gesê het: Lei die kinders van Israel uit Egipteland volgens hulle leërskare.
26Dit is hulle wat met Farao, die koning van Egipte, gespreek het om die kinders van Israel uit Egipte uit te lei. Dit is Moses en Aäron.
27DIE dag toe die HERE met Moses gespreek het in Egipteland,
28het die HERE Moses aangespreek met die woorde: Ek is die HERE. Sê aan Farao, die koning van Egipte, alles wat Ek met jou spreek.
29Toe sê Moses voor die aangesig van die HERE: Ek is onbesnede van lippe! Hoe sal Farao dan na my luister?

Exodus Chapter 5Exodus Chapter 7