Esra Chapter 5

Esra Chapter 5

1MAAR Haggai, die profeet, en Sagaría, die seun van Iddo, die profete, het vir die Jode wat in Juda en Jerusalem was, geprofeteer in die Naam van die God van Israel wat oor hulle was.
2Toe het Serubbábel, die seun van Seáltiël, en Jésua, die seun van Jósadak, klaargemaak, en hulle het begin om die huis van God wat in Jerusalem was, te bou, en saam met hulle was die profete van God wat hulle ondersteun het.
3In dié tyd het Tattenai, die goewerneur wes van die Eufraat, en Setar-Bosenai en hulle partygenote na hulle gekom en só aan hulle gesê: Wie het julle bevel gegee om hierdie huis te bou en hierdie muur te voltooi?
4Só het ons dan vir hulle gesê wat die name was van die manne wat hierdie gebou oprig.
5Maar die oog van hulle God was oor die oudstes van die Jode, sodat hulle hul nie verhinder het nie, totdat die berig voor Daríus sou kom, en dan daaroor ’n brief teruggebring sou word.
6’n Afskrif van die brief wat Tattenai, die goewerneur wes van die Eufraat, en Setar-Bosenai en sy partygenote, die Afarsegaïete wat wes van die Eufraat was, aan koning Daríus gestuur het.
7Hulle het aan hom ’n berig gestuur, en só was daarin geskrywe: Aan koning Daríus — alle heil!
8Aan die koning word bekend gemaak dat ons na die provinsie Juda, na die huis van die grote God, gegaan het; en dit word van groot klippe gebou, en hout word teen die mure gelê, en daardie werk word sorgvuldig gedoen en vorder goed onder hulle hande.
9Toe het ons daardie oudstes gevra; só het ons aan hulle gesê: Wie het julle bevel gegee om hierdie huis te bou en hierdie muur te voltooi?
10Verder het ons vir hulle ook hul name gevra om u bekend te maak, dat ons die name van die manne wat aan hul hoof staan, kan skrywe.
11En hulle het ons die volgende antwoord gegee en gesê: Ons is knegte van die God van hemel en aarde, en ons bou die huis wat baie jare gelede gebou is, wat ’n groot koning van Israel gebou en voltooi het.
12Maar omdat ons vaders die God van die hemel vertoorn het, het Hy hulle oorgegee in die hand van Nebukadnésar, die koning van Babel, die Chaldeër; hy het hierdie huis verwoes en die volk na Babel weggevoer.
13Maar in die eerste jaar van Kores, die koning van Babel, het koning Kores bevel gegee om hierdie huis van God te bou.
14En ook die goue en silwervoorwerpe van die huis van God wat Nebukadnésar uit die tempel in Jerusalem weggevoer en in die tempel van Babel gebring het, dit het koning Kores uit die tempel van Babel uitgehaal, en dit is oorhandig aan een, met die naam van Sésbassar, wat hy as goewerneur aangestel het;
15en hy het vir hom gesê: Neem hierdie voorwerpe, gaan sit dit in die tempel in Jerusalem, en laat die huis van God gebou word op sy plek.
16Toe het hierdie Sésbassar gekom, hy het die fondamente van die huis van God in Jerusalem gelê, en van toe af tot nou toe is daar gebou, maar dit is nog nie voltooi nie.
17As die koning dit nou goedvind, laat dan nagesoek word in die skathuis van die koning daar in Babel, of dit so is dat deur koning Kores bevel gegee is om hierdie huis van God in Jerusalem te bou; en mag die koning sy beslissing hieroor aan ons stuur.

Esra Chapter 4Esra Chapter 6