Jesaja Chapter 39

Jesaja Chapter 39

1IN dié tyd het Meródag Báladan, die seun van Báladan, die koning van Babel, ’n brief en ’n geskenk aan Hiskía gestuur; want hy het gehoor dat hy siek was en gesond geword het.
2En Hiskía was bly oor hulle en het hulle sy skathuis laat sien, die silwer en die goud en die speserye en die kosbare olie en sy hele wapenhuis en alles wat te vinde was in sy skatkamers; daar was niks in sy huis of in sy hele ryk wat Hiskía hulle nie laat sien het nie.
3Toe kom die profeet Jesaja na koning Hiskía en sê vir hom: Wat het hierdie manne gesê en waarvandaan het hulle na u gekom? En Hiskía antwoord: Uit ’n ver land het hulle na my gekom, uit Babel.
4En hy sê: Wat het hulle in u huis gesien? En Hiskía antwoord: Hulle het alles gesien wat in my huis is; daar is niks in my skatkamers wat ek hulle nie laat sien het nie.
5Toe sê Jesaja vir Hiskía: Hoor die woord van die HERE van die leërskare:
6Kyk, daar kom dae dat alles wat in jou huis is en wat jou vaders opgehoop het tot vandag toe, na Babel weggevoer sal word; daar sal niks oorbly nie, sê die HERE.
7En van jou seuns wat uit jou sal voortkom, wat jy sal verwek, sal hulle neem, dat hulle hofdienaars word in die paleis van die koning van Babel.
8Toe sê Hiskía vir Jesaja: Die woord van die HERE wat u gespreek het, is goed. Ook sê hy: Daar sal tog vrede en bestendigheid wees in my dae!

Jesaja Chapter 38Jesaja Chapter 40