Job Chapter 8

Job Chapter 8

1TOE het Bildad, die Suhiet, geantwoord en gesê:
2Hoe lank sal jy hierdie dinge spreek en die woorde van jou mond ’n geweldige wind wees?
3Sou God die reg verdraai, of die Almagtige die geregtigheid krenk?
4As jou kinders teen Hom gesondig het, het Hy hulle aan hul oortreding oorgegee.
5As jý na God soek en die Almagtige om genade smeek,
6as jy rein en opreg is, ja, dan sal Hy oor jou opwaak en jou woning herstel ooreenkomstig jou geregtigheid;
7dan sal jou begin gering wees, maar jou einde baie groot.
8WANT doen tog navraag by die vorige geslag, en gee ag op wat hulle vaders nagespeur het;
9(want ons is van gister en weet niks nie, omdat ons dae ’n skaduwee op die aarde is;)
10sal húlle jou nie leer, jou dit nie sê en woorde uit hul hart voortbring nie?
11Skiet die biesie op waar geen moeras is nie? Groei die riet sonder water?
12Nog is dit in sy volle groei — sonder dat dit afgepluk word — dan verdor dit voor al die ander gras.
13So gaan dit met almal wat God vergeet, en so vergaan die verwagting van die goddelose;
14sy hoop is afgesny en die voorwerp van sy vertroue is ’n spinnerak.
15Hy steun op sy huis, maar dit bly nie staan nie; hy klem hom daaraan vas, maar dit hou geen stand nie.
16Vol sap staan hy in die son, en sy ranke sprei uit oor sy tuin.
17Sy wortels is gevleg oor ’n hoop klippe heen, ’n kliphuis deurboor hy.
18As Hy hom vernietig uit sy plek, sal dit hom verloën en sê: Ek het jou nie gesien nie.
19Kyk, dit is die vreugde van sy lewensweg, en uit die stof spruit daar ander uit!
20Kyk, God verwerp die vrome nie, en Hy vat die kwaaddoeners nie aan die hand nie.
21Terwyl Hy jou mond met gelag vervul en jou lippe met gejuig,
22sal jou haters met skaamte beklee word, en die tent van die goddelose — weg is dit!

Job Chapter 7Job Chapter 9