Nehemía Chapter 4

Nehemía Chapter 4

1MAAR toe Sanbállat hoor dat ons die muur bou, het hy kwaad geword en hom baie geërg, en hy het met die Jode gespot
2en voor sy broers en die leër van Samaría gespreek en gesê: Wat maak die magtelose Jode? Sal ’n mens hulle laat begaan? Sal hulle offer? Sal hulle dit vandag nog voltooi? Sal hulle die klippe uit die grondhope lewendig maak, al is dit deur brand verniel?
3En Tobía, die Ammoniet, het langs hom gestaan en gesê: Wat hulle ook al bou — as ’n jakkals daarteen opspring, sal hy hulle klipmuur omgooi!
4Hoor, onse God, dat ons ’n veragting geword het; en bring hulle smaad op hulle hoof terug en gee hulle oor aan plundering in ’n land van gevangenskap.
5En dek hulle ongeregtigheid nie toe nie, en laat hulle sonde nie uitgedelg word voor u aangesig nie; want hulle het U geterg teenoor die bouers.
6Maar ons het die muur opgebou, en die hele muur is tot op sy helfte herstel; en die volk was met hulle hart in die werk.
7Maar toe Sanbállat en Tobía en die Arabiere en die Ammoniete en die Asdodiete hoor dat die verbetering aan die mure van Jerusalem vorder, dat die skeure begin toeraak, het hulle baie kwaad geword.
8En hulle het almal met mekaar ’n sameswering gesmee om teen Jerusalem te gaan veg en daar verwarring te stig.
9Maar ons het tot onse God gebid en om hulle ontwil ’n wag teen hulle uitgesit, dag en nag.
10Maar Juda het gesê: Die krag van die lasdraers beswyk, en die puinhoop is groot, sodat ons nie aan die muur kan bou nie.
11En ons teëstanders het gesê: Hulle mag niks weet en sien nie totdat ons tussen hulle inkom en hulle doodslaan en ’n einde maak aan die werk.
12En toe die Jode wat by hulle gewoon het, inkom en wel tien maal, uit al die plekke, aan ons sê: Julle moet na ons toe terugkom —
13het ek op die laagste plekke agter die muur, op die kaal plekke, manskappe opgestel — ek het die volk opgestel volgens hulle geslagte met hul swaarde, hul spiese en hul boë.
14En ek het dit gesien en my opgerig en aan die edeles en die leiers en die ander mense gesê: Julle moet nie bang wees vir hulle nie; dink aan die grote en gedugte HERE, en veg vir julle broers, julle seuns en julle dogters, julle vroue en julle huise.
15En toe ons vyande hoor dat dit aan ons bekend geword het, en God hulle plan verydel het, het ons almal teruggegaan na die muur, elkeen na sy werk.
16En van dié dag af was die helfte van my mense besig met die werk, en die ander helfte het die spiese en die skilde en die boë en die pantsers gehou, terwyl die owerstes agter die hele huis van Juda gestaan het.
17Van die bouers aan die muur het die lasdraers hulle werk so gedoen dat hulle met die een hand die werk verrig het, terwyl die ander hand die werpspies vashou,
18en die bouers het elkeen sy swaard aan sy heupe gegord en gebou, terwyl die basuinblaser by my gestaan het.
19En ek het aan die edeles en die leiers en die ander mense gesê: Die werk is groot en uitgestrek, en ons is uitmekaar op die muur, die een ver van die ander af.
20Op die plek waar julle die geluid van die basuin hoor, daar moet julle by ons bymekaarkom; onse God sal vir ons stry.
21En ons het die werk gedoen, terwyl die helfte van hulle die spiese vashou vandat die rooidag uitkom totdat die sterre verskyn.
22Ook het ek in dié tyd aan die volk gesê: Elkeen moet met sy kneg binnekant Jerusalem vernag, sodat hulle vir ons in die nag ’n wag kan wees en oordag ’n werkkrag.
23Maar ek self en my broers en my mense en die manne van die wag wat my gevolg het, het nooit ons klere uitgetrek nie — elkeen met sy wapen en water.

Nehemía Chapter 3Nehemía Chapter 5