Númeri Chapter 2

Númeri Chapter 2

1EN die HERE het met Moses en Aäron gespreek en gesê:
2Die kinders van Israel moet laer opslaan elkeen by sy vaandel by die veldtekens van hulle families; op ’n afstand rondom die tent van samekoms moet hulle laer opslaan.
3En die wat aan die oostekant, teen sonop, laer opslaan, moet wees: die vaandel van die laer van Juda volgens hulle leërafdelings; en Nagson, die seun van Ammínadab, moet owerste oor die seuns van Juda wees.
4En sy leër met hulle geteldes was vier-en-sewentigduisend-seshonderd.
5En die wat langs hom laer opslaan, moet wees die stam van Íssaskar; en Netáneël, die seun van Suar, moet owerste oor die seuns van Íssaskar wees.
6En sy leër met hulle geteldes was vier-en-vyftigduisend-vierhonderd.
7Verder die stam van Sébulon; en Elíab, die seun van Helon, moet owerste oor die seuns van Sébulon wees.
8En sy leër met sy geteldes was sewen-en-vyftigduisend-vierhonderd.
9Al die geteldes in die laer van Juda was honderd-ses-en-tagtigduisend-vierhonderd volgens hulle leërafdelings. Hulle moet eerste opbreek.
10Die vaandel van die laer van Ruben volgens hulle leërafdelings moet aan die suidekant wees; en Elísur, die seun van Sedéür, moet owerste oor die seuns van Ruben wees.
11En sy leër met sy geteldes was ses-en-veertigduisend-vyfhonderd.
12En die wat langs hom laer opslaan, moet wees die stam van Símeon; en Selúmiël, die seun van Surísaddai, moet owerste oor die seuns van Símeon wees.
13En sy leër met hulle geteldes was negen-en-vyftigduisend-driehonderd.
14Verder die stam van Gad; en Éljasaf, die seun van Réhuel, moet owerste oor die seuns van Gad wees.
15En sy leër met hulle geteldes was vyf-en-veertigduisend-seshonderd-en-vyftig.
16Al die geteldes in die laer van Ruben was honderd-een-en-vyftigduisend-vierhonderd-en-vyftig volgens hulle leërafdelings. En hulle moet tweede opbreek.
17Daarna moet die tent van samekoms opbreek: die laer van die Leviete, tussen die ander laers in. Soos hulle laer opslaan, so moet hulle opbreek, elkeen op sy plek volgens hulle vaandels.
18Die vaandel van die laer van Efraim volgens hulle leërafdelings moet aan die westekant wees; en Elisáma, die seun van Ammíhud, moet owerste oor die seuns van Efraim wees.
19En sy leër met hulle geteldes was veertigduisend-vyfhonderd.
20En langs hom die stam van Manasse; en Gámliël, die seun van Pedásur, moet owerste oor die seuns van Manasse wees.
21En sy leër met hulle geteldes was twee-en-dertigduisend-tweehonderd.
22Verder die stam van Benjamin; en Abídan, die seun van Gideóni, moet owerste oor die seuns van Benjamin wees.
23En sy leër met hulle geteldes was vyf-en-dertigduisend-vierhonderd.
24Al die geteldes in die laer van Efraim was honderd-en-agtduisend-eenhonderd volgens hulle leërafdelings. En hulle moet derde opbreek.
25Die vaandel van die laer van Dan moet aan die noordekant wees volgens hulle leërafdelings: en Ahiëser, die seun van Ammísaddai, moet owerste oor die seuns van Dan wees.
26En sy leër met hulle geteldes was twee-en-sestigduisend-sewehonderd.
27En die wat langs hom laer opslaan, moet wees die stam van Aser; en Págiël, die seun van Ogran, moet owerste oor die seuns van Aser wees.
28En sy leër met hulle geteldes was een-en-veertigduisend-vyfhonderd.
29Verder die stam van Náftali; en Ahíra, die seun van Enan, moet owerste oor die seuns van Náftali wees.
30En sy leër met hulle geteldes was drie-en-vyftigduisend-vierhonderd.
31Al die geteldes in die laer van Dan was honderd-sewen-en-vyftigduisend-seshonderd. Hulle moet laaste opbreek volgens hulle vaandels.
32Dit is die geteldes van die kinders van Israel volgens hulle families. Al die geteldes van die laers volgens hulle leërafdelings was seshonderd-en-drieduisend-vyfhonderd-en-vyftig.
33Maar die Leviete is onder die kinders van Israel nie getel nie, soos die HERE Moses beveel het.
34En die kinders van Israel het gedoen net soos die HERE Moses beveel het; so het hulle laer opgeslaan volgens hulle vaandels, en so het hulle opgebreek elkeen volgens sy geslagte, by sy families.

Númeri Chapter 1Númeri Chapter 3