Psalms Chapter 53

Psalms Chapter 53

1VIR die musiekleier; op die wysie van: „Máhalat.” ’n Onderwysing van Dawid.
2Die dwaas sê in sy hart: Daar is geen God nie! Hulle het sleg gehandel en hul onreg afskuwelik gemaak; daar is niemand wat goed doen nie.
3God het uit die hemel neergesien op die mensekinders om te sien of daar iemand verstandig is, wat na God vra.
4Hulle het almal afgewyk, tesame het hulle ontaard; daar is niemand wat goed doen nie, ook nie een nie.
5Het die werkers van ongeregtigheid dan geen kennis nie, wat my volk opeet asof hulle brood eet? Hulle roep God nie aan nie.
6Dáár het skrik hulle oorweldig sonder dat daar skrik was; want God het die beendere verstrooi van hom wat jou beleër het; jy het hulle beskaamd gemaak, want God het hulle verwerp.
7Ag, mag die verlossing van Israel uit Sion kom! As God die lot van sy volk verander, dan sal Jakob juig, Israel sal bly wees.

Psalms Chapter 52Psalms Chapter 54