Romeine Chapter 10

Romeine Chapter 10

1BROEDERS, die verlange van my hart en die gebed wat ek tot God vir Israel doen, is tot hulle redding.
2Want ek getuig van hulle dat hulle ’n ywer vir God het, maar sonder kennis.
3Want omdat hulle die geregtigheid van God nie ken nie en hulle eie geregtigheid probeer oprig, het hulle hul aan die geregtigheid van God nie onderwerp nie.
4Want Christus is die einde van die wet tot geregtigheid vir elkeen wat glo.
5Want Moses beskrywe die geregtigheid wat uit die wet is: Die mens wat hierdie dinge doen, sal daardeur lewe.
6Maar die geregtigheid wat uit die geloof is, sê dit: Moenie in jou hart sê nie: Wie sal in die hemel opvaar, naamlik om Christus af te bring;
7of: Wie sal in die afgrond neerdaal, naamlik om Christus uit die dode op te bring?
8Maar wat sê dit? Naby jou is die woord, in jou mond en in jou hart. Dit is die woord van die geloof wat ons verkondig:
9As jy met jou mond die Here Jesus bely en met jou hart glo dat God Hom uit die dode opgewek het, sal jy gered word;
10want met die hart glo ons tot geregtigheid en met die mond bely ons tot redding.
11Want die Skrif sê: Elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaam word nie.
12Want daar is geen onderskeid tussen Jood en Griek nie; dieselfde Here tog is Here van almal en is ryk oor almal wat Hom aanroep.
13Want: Elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word.
14Hoe kan hulle Hom dan aanroep in wie hulle nie geglo het nie? En hoe kan hulle in Hom glo van wie hulle nie gehoor het nie? En hoe kan hulle hoor sonder een wat preek?
15En hoe kan hulle preek as hulle nie gestuur word nie? Soos geskrywe is: Hoe lieflik is die voete van die wat die evangelie van vrede verkondig, van die wat die evangelie van die goeie verkondig!
16Maar hulle was nie almal gehoorsaam aan die evangelie nie; want Jesaja het gesê: Here, wie het ons prediking geglo?
17Die geloof is dus uit die gehoor, en die gehoor is deur die woord van God.
18Maar ek sê: Het hulle miskien nie gehoor nie? Ja, seker! Oor die hele aarde het hulle stem uitgegaan en tot by die eindes van die wêreld hulle woorde.
19Maar ek vra: Het Israel dit miskien nie verstaan nie? Ten eerste sê Moses: Ek sal julle jaloers maak op dié wat geen volk is nie, en Ek sal julle toorn opwek teen ’n onverstandige volk.
20En Jesaja durf selfs sê: Ek het My laat vind deur die wat My nie gesoek het nie; Ek het verskyn aan die wat na My nie gevra het nie.
21Maar van Israel sê Hy: Die hele dag het Ek my hande uitgebrei na ’n ongehoorsame en teësprekende volk.

Romeine Chapter 9Romeine Chapter 11