I Kronieke Chapter 14

I Kronieke Chapter 14

1TOE stuur Hiram, die koning van Tirus, boodskappers na Dawid met sederhout en messelaars en skrynwerkers om vir hom ’n huis te bou.
2So het Dawid dan gewaargeword dat die HERE hom as koning oor Israel bevestig het en dat sy koningskap hoog verhewe was ter wille van sy volk Israel.
3En Dawid het in Jerusalem nog meer vroue geneem, en Dawid het die vader van nog meer seuns en dogters geword.
4En dit is die name van die kinders wat hy in Jerusalem gehad het: Sámmua en Sobab, Natan en Salomo
5en Jibhar en Elisúa en Elpélet
6en Noga en Nefeg en Jáfia
7en Elisáma en Beëljada en Elifélet.
8Toe die Filistyne hoor dat Dawid as koning oor die hele Israel gesalf was, het al die Filistyne opgetrek om Dawid te soek. Toe Dawid dit hoor, het hy teen hulle uitgetrek.
9En die Filistyne het gekom en hulle versprei in die dal Refáim.
10Toe het Dawid God geraadpleeg en gesê: Sal ek optrek teen die Filistyne, en sal U hulle in my hand gee? En die HERE het aan hom gesê: Trek op, en Ek sal hulle in jou hand gee.
11En toe hulle optrek by Baäl-Pérasim, het Dawid hulle daar verslaan, en Dawid het gesê: God het deur my hand deur my vyande gebreek soos water deurbreek; daarom het hulle dié plek Baäl-Pérasim genoem.
12En hulle het hul gode daar agtergelaat; en Dawid het bevel gegee, en hulle is met vuur verbrand.
13Maar die Filistyne het hulle nog weer in die dal versprei.
14Toe raadpleeg Dawid God weer, en God het aan hom gesê: Jy moet nie agter hulle aan optrek nie; trek om, van hulle af weg, en val hulle vlak voor die balsembosse aan.
15En as jy ’n geruis van voetstappe in die toppe van die balsembosse hoor, trek dan uit vir die geveg, want God het voor jou uitgetrek om die leër van die Filistyne te verslaan.
16En Dawid het gedoen soos God hom beveel het, en hulle het die leër van die Filistyne verslaan van Gíbeon af tot by Geser.
17En die naam van Dawid het uitgegaan in al die lande, en die HERE het die skrik vir hom op al die nasies gelê.

I Kronieke Chapter 13I Kronieke Chapter 15