I Kronieke Chapter 15

I Kronieke Chapter 15

1EN hy het vir hom huise gebou in die stad van Dawid, en ’n plek reggemaak vir die ark van God en daarvoor ’n tent opgeslaan.
2Toe sê Dawid: Niemand mag die ark van God dra nie, behalwe die Leviete; want die HERE het hulle uitverkies om die ark van God te dra en om Hom tot in ewigheid te dien.
3En Dawid het die hele Israel in Jerusalem versamel om die ark van die HERE te bring na sy plek wat hy daarvoor reggemaak het.
4En Dawid het die seuns van Aäron en die Leviete versamel:
5van die seuns van Kehat: Úriël, die owerste, en sy broers, honderd-en-twintig;
6van die seuns van Merári: Asája, die owerste, en sy broers, tweehonderd-en-twintig;
7van die seuns van Gersom: Joël, die owerste, en sy broers, honderd-en-dertig;
8van die seuns van Elísafan: Semája, die owerste, en sy broers, tweehonderd;
9van die seuns van Hebron: Éliël, die owerste, en sy broers, tagtig;
10van die seuns van Ússiël: Ammínadab, die owerste, en sy broers, honderd-en-twaalf.
11En Dawid het Sadok en Ábjatar, die priesters, en die Leviete Úriël, Asája en Joël, Semája en Éliël en Ammínadab laat roep
12en aan hulle gesê: Julle is hoofde van families van die Leviete; heilig julle, julle en jul broers, en bring die ark van die HERE, die God van Israel, op na die plek wat ek daarvoor reggemaak het.
13Want omdat julle in die begin nie by was nie, het die HERE onse God teen ons uitgebreek, omdat ons Hom nie gesoek het soos dit behoort nie.
14Daarop het die priesters en die Leviete hulle geheilig om die ark van die HERE, die God van Israel, te gaan haal.
15En die seuns van die Leviete het die ark van God, soos Moses volgens die woord van die HERE beveel het, op hulle skouers gedra, met die draaghoute op hulle.
16En Dawid het aan die owerstes van die Leviete gesê om hulle broers, die sangers, op te stel met musiekinstrumente, harpe en siters en simbale, om hulle te laat hoor deur die stem met blydskap te verhef.
17Die Leviete het toe Heman, die seun van Joël, opgestel, en uit sy broers Asaf, die seun van Berégja; en uit die seuns van Merári, hulle broers, Etan, die seun van Kusája;
18en saam met hulle hul broers van die tweede rang: Sagaría, en Jasäiël en Semíramot en Jéhiël en Unni, Elíab en Benája en Maäséja en Mattítja en Eliféle en Miknéja en Obed-Edom en Jeï-el, die poortwagters;
19en die sangers Heman, Asaf en Etan om met kopersimbale musiek te maak;
20en Sagaría en Ásiël en Semíramot en Jéhiël en Unni en Elíab en Maäséja en Benája met harpe, met sopraanstemme;
21en Mattítja en Eliféle en Miknéja en Obed-Edom en Jeï-el en Asásja met siters om in die bas leiding te gee.
22En Kenánja, die owerste van die Leviete, was aangestel oor die vervoer; hy het die vervoer gereël want hy het dit verstaan.
23En Berégja en Élkana was poortwagters by die ark.
24En die priesters Sebánja en Jósafat en Netáneël en Amásai en Sagaría en Benája en Eliëser het op die trompette geblaas voor die ark van God uit; en Obed-Edom en Jehía was poortwagters van die ark.
25Dawid en die oudstes van Israel en die owerstes oor duisend het toe gegaan om die verbondsark van die HERE met vreugde uit die huis van Obed-Edom te gaan haal.
26En terwyl God die Leviete help wat die verbondsark van die HERE dra, het hulle sewe bulle en sewe ramme geoffer.
27En Dawid het ’n mantel van fyn linne aangehad, ook al die Leviete wat die ark gedra het, en die sangers en Kenánja, die owerste oor die voordrag van die sangers; en Dawid het ’n linneskouerkleed aangehad.
28En die hele Israel het die verbondsark van die HERE gaan haal met gejuig en basuingeklank en met trompette en simbale, onderwyl hulle musiek maak op harpe en siters.
29Toe die verbondsark van die HERE by die stad van Dawid kom, kyk Migal, die dogter van Saul, deur die venster uit en sien koning Dawid dans en speel, en sy het hom in haar hart verag.

I Kronieke Chapter 14I Kronieke Chapter 16