1 | GODSPRAAK oor die woestyn van die see. Soos stormwinde in die Suidland deurtrek, kom dit uit die woestyn, uit ’n vreeslike land! |
2 | ’n Harde gesig is my te kenne gegee: Die ontroue handel troueloos, en die verwoester verwoes. Trek op, Elam! Beleër, Medië! Aan alle gesug maak Ek ’n einde. |
3 | Daarom is my heupe vol siddering, weë het my aangegryp soos die weë van een wat baar; ek buig my krom, sodat ek nie hoor nie; ek is verskrik, sodat ek nie sien nie. |
4 | My hart duisel, angs oorval my; dit maak vir my die skemeraand wat ek liefhet, tot ’n verskrikking. |
5 | Hulle maak die tafel gereed, hulle sprei die tapyt, hulle eet, drink ... Staan op, o vorste, salf die skild! |
6 | Want so het die Here vir my gesê: Gaan heen, sit ’n wag uit; laat hom te kenne gee wat hy sien; |
7 | en sien hy ’n stoet ruiters, twee aan twee, ’n stoet esels, ’n stoet kamele, dan moet hy skerp luister, so skerp as hy kan. |
8 | En hy het geroep soos ’n leeu. Op die wagtoring, Here, staan ek gedurig by dag, en op my wagpos stel ek my al die nagte. |
9 | En kyk, daar kom ’n stoet manne, ruiters twee aan twee. Toe het hy aangehef en gesê: Geval, geval het Babel, en hulle het al die gesnede beelde van sy gode verbrysel teen die grond. |
10 | O My vertrapte en gedorste volk, wat ek gehoor het van die HERE van die leërskare, die God van Israel, het ek julle bekend gemaak. |
11 | GODSPRAAK oor Duma. Daar roep een my toe van Seïr af: Wagter, hoe ver is dit in die nag? Wagter, hoe ver in die nag? |
12 | Die wagter sê: Die môre kom, en ook die nag. Wil julle vra, vra; keer terug, kom. |
13 | GODSPRAAK teen Arabië. In die bos in Arabië moet julle vernag, karavane van die Dedaniete! |
14 | Bring vir die dorstige water tegemoet! Die inwoners van die land Tema het die vlugteling met brood teëgekom. |
15 | Want hulle het gevlug vir swaarde, vir die swaard wat uitgetrek en vir die boog wat gespan is, en vir die druk van die oorlog. |
16 | Want so het die Here vir my gesê: Binne ’n jaar — soos die jare van ’n dagloner — sal al die heerlikheid van Kedar verdwyn. |
17 | En wat oorbly van die getal boë van die Kedareense helde, sal min wees; want die HERE, die God van Israel, het dit gespreek. |