1 | DIE woord van die HERE wat tot Joël, die seun van Pétuel, gekom het. |
2 | Hoor dit, o oudstes, en luister, alle inwoners van die land! Het so iets ooit in julle dae of in die dae van julle vaders plaasgevind? |
3 | Vertel daarvan aan julle kinders, en julle kinders aan hulle kinders, en húlle kinders aan die volgende geslag: |
4 | Wat die afknyper laat oorbly het, het die treksprinkaan verslind; en wat die treksprinkaan laat oorbly het, het die voetganger verslind; en wat die voetganger laat oorbly het, het die kaalvreter verslind. |
5 | Word wakker, julle dronkaards, en ween! En huil, al julle wyndrinkers! Oor die mos, omdat dit van julle mond weggeruk is. |
6 | Want ’n sterk en ontelbare nasie het opgetrek oor my land; sy tande is leeutande, en dit kan byt soos ’n leeuin. |
7 | Dit het my wingerdstok verwoes en my vyeboom versplinter; dit het ál sy bas afgeskil en weggegooi; die lote daarvan het wit geword. |
8 | Weeklaag soos ’n jonkvrou wat oor die bruidegom van haar jeug met ’n roukleed omgord is. |
9 | Spysoffer en drankoffer is ontruk aan die huis van die HERE; die priesters, die dienaars van die HERE, treur. |
10 | Die veld is verwoes, die akkerland treur; want die koring is verwoes, die mos het weggedroog, die olie het verdwyn. |
11 | Die landbouers staan beskaamd, die wynboere weeklaag oor die koring en oor die gars, omdat die oes op die land verlore is. |
12 | Die wingerdstok het verdor, en die vyeboom het verwelk; die granaat, ook die palm en die appelboom, al die bome van die land het verdor; want beskaamd is die vreugde, weg van die mensekinders af. |
13 | Omgord julle en klaag, o priesters! Huil, dienaars van die altaar! Kom, vernag in rouklere, dienaars van my God! Want die spysoffer en die drankoffer is geweer van die huis van julle God. |
14 | Heilig ’n vasdag, roep ’n vergadering saam! Versamel die oudstes, alle inwoners van die land in die huis van die HERE julle God, en roep tot die HERE. |
15 | Ag, die dag! Want naby is die dag van die HERE, en hy kom soos ’n verwoesting van die Almagtige. |
16 | Is die spys nie weggeruk voor ons oë nie, blydskap en gejuig weg uit die huis van onse God? |
17 | Die graankorrels het weggekrimp onder hulle kluite, die voorraadkamers is verwoes, die graanbakke afgebreek, want die koring het verdor. |
18 | Hoe sug die vee! Die troppe beeste is onrustig, want daar is geen weiveld vir hulle nie; ook die troppe kleinvee moet boet. |
19 | Tot U, o HERE, roep ek, want ’n vuur het die weivelde van die woestyn verteer, en ’n vlam het al die bome van die veld aan die brand gesteek. |
20 | Selfs die diere van die veld smag na U; want die waterstrome het opgedroog, en ’n vuur het die weivelde van die woestyn verteer. |