1 | VERDER het die HERE met Moses en Aäron gespreek en gesê: |
2 | As ’n mens in die vel van sy vlees ’n swelsel of uitslag of ligte vlek het, en dit in die vel van sy vlees ’n plaag van melaatsheid word, moet hy na die priester Aäron of na een van sy seuns, die priesters, gebring word; |
3 | en die priester moet na die aangetaste plek in die vel van die vlees kyk. Het die hare op die plek wit geword, en lyk dit of die plek dieper is as die vel van sy vlees, dan is dit die plaag van melaatsheid. As die priester dit sien, moet hy hom onrein verklaar. |
4 | Maar as dit ’n wit vlek in die vel van sy vlees is en dit nie dieper lyk as die vel nie, en die hare daarvan nie wit geword het nie, moet die priester die aangetaste persoon sewe dae lank opsluit. |
5 | As die priester hom op die sewende dag bekyk en sien dat die aangetaste plek, volgens hy kan sien, dieselfde gebly het, die plek nie in die vel versprei het nie, dan moet die priester hom nog ’n keer sewe dae lank opsluit. |
6 | Bekyk die priester hom dan op die sewende dag nog ’n keer en sien hy dat die aangetaste plek dof van kleur geword en die plek in die vel nie versprei het nie, dan moet die priester hom rein verklaar. Dit is ’n uitslag; en hy moet sy klere was, dan is hy rein. |
7 | Maar as die uitslag werklik in die vel versprei nadat hy hom aan die priester vertoon het om rein te word, moet hy hom nog ’n keer aan die priester vertoon. |
8 | En sien die priester dat die uitslag in die vel versprei het, dan moet die priester hom onrein verklaar. Dit is melaatsheid. |
9 | As die plaag van melaatsheid aan ’n mens is, moet hy na die priester gebring word. |
10 | En as die priester sien dat daar ’n wit swelsel in die vel is wat die hare wit gemaak het, terwyl daar wilde vlees in die swelsel groei, |
11 | dan is dit ’n verouderde melaatsheid in die vel van sy vlees, en die priester moet hom onrein verklaar. Hy moet hom nie opsluit nie, want hy is onrein. |
12 | Maar as die melaatsheid so geweldig in die vel uitbreek, dat die melaatsheid die hele vel van die aangetaste persoon van sy hoof tot sy voete oordek, so ver as wat die oë van die priester kan sien; |
13 | en sien die priester dat die melaatsheid sy hele vlees oordek het, dan moet hy die aangetaste persoon rein verklaar: hy het heeltemal wit geword, hy is rein. |
14 | Maar so gou as wilde vlees aan hom gesien word, sal hy onrein wees; |
15 | en as die priester die wilde vlees sien, moet hy hom onrein verklaar. Die wilde vlees is onrein, dit is melaatsheid. |
16 | Maar as die wilde vlees weer weggaan en hy wit word, moet hy na die priester kom. |
17 | As die priester hom dan bekyk en sien dat die aangetaste plek wit geword het, dan moet die priester die aangetaste persoon rein verklaar; hy is rein. |
18 | Maar as daar in die vlees aan hom, naamlik in die vel, ’n sweer is en gesond word, |
19 | maar in die plek van die sweer ’n wit swelsel of ’n rooierige wit vlek kom, moet hy hom aan die priester vertoon. |
20 | As die priester sien dat dit dieper lyk as die vel, en die hare daarvan wit geword het, dan moet die priester hom onrein verklaar; dit is ’n plaag van melaatsheid, dit het in die sweer uitgebreek. |
21 | Maar as die priester dit bekyk, en daar geen wit hare op is nie, en dit nie dieper as die vel is nie en dof van kleur geword het, dan moet die priester hom sewe dae lank opsluit. |
22 | En as dit werklik in die vel versprei, moet die priester hom onrein verklaar; dit is ’n plaag van melaatsheid. |
23 | Maar as die ligte vlek bly waar dit is, nie versprei het nie, is dit die litteken van die sweer, en die priester moet hom rein verklaar. |
24 | Of as in die vlees, in sy vel ’n brandplek van vuur is en die nuwe vlees van die brandplek ’n rooierige wit of wit vlek is; |
25 | en die priester dit bekyk en sien dat die hare op die ligte vlek wit geword het en dit dieper lyk as die vel, dan is dit melaatsheid; in die brandplek het dit uitgebreek. Daarom moet die priester hom onrein verklaar; dit is die plaag van melaatsheid. |
26 | Maar as die priester dit bekyk en sien dat op die ligte vlek geen wit hare is nie, en dit nie dieper as die vel is nie en dof van kleur geword het, dan moet die priester hom sewe dae lank opsluit. |
27 | Dan moet die priester op die sewende dag hom bekyk. As dit werklik in die vel versprei het, moet die priester hom onrein verklaar; dit is die plaag van melaatsheid. |
28 | Maar as die ligte vlek bly waar dit is, nie in die vel versprei het nie en dof van kleur geword het, dan is dit die swelsel van die brandplek. Daarom moet die priester hom rein verklaar, want dit is die litteken van die brandplek. |
29 | Verder, as daar by ’n man of vrou ’n aangetaste plek aan die hoof of in die baard is, |
30 | en die priester die plek bekyk en sien dat dit dieper lyk as die vel, en daar geel dun hare op is, dan moet die priester hom onrein verklaar; dit is skurfte, dit is melaatsheid van die hoof of van die baard. |
31 | Maar as die priester die plaag van skurfte bekyk en sien dat dit nie dieper as die vel lyk nie, en daar geen swart hare op is nie, dan moet die priester die deur skurfte aangetaste persoon sewe dae lank opsluit. |
32 | Bekyk die priester dan op die sewende dag die aangetaste plek en sien hy dat die skurfte nie versprei het nie, en daar geen geel hare op is nie, en die skurfte nie dieper lyk as die vel nie, |
33 | dan moet die persoon hom skeer, maar die skurwe plek moet hy nie skeer nie, en die priester moet die skurwe persoon nog ’n keer sewe dae lank opsluit. |
34 | Bekyk die priester dan die skurfte op die sewende dag en sien hy dat die skurfte nie in die vel versprei het nie en dit nie dieper as die vel lyk nie, dan moet die priester hom rein verklaar. En hy moet sy klere was en sal rein wees. |
35 | Maar as die skurfte werklik in die vel versprei nadat hy rein verklaar is, |
36 | en die priester dit bekyk en sien dat die skurfte in die vel versprei het, dan hoef die priester nie na die geel hare te soek nie; hy is onrein. |
37 | Maar as die skurfte, volgens hy kan sien, dieselfde gebly en swart hare daarop gegroei het, dan is die skurfte gesond. Hy is rein, en die priester moet hom rein verklaar. |
38 | Verder, as ’n man of vrou in die vel van hulle vlees ligte vlekke, wit vlekke het, |
39 | en die priester sien dat daar dowwe wit vlekke in die vel van hulle vlees is, dan is dit gewone uitslag wat in die vel uitgebreek het; hy is rein. |
40 | En as ’n man se hoof kaal word, is hy ’n kaalkop; hy is rein. |
41 | En as sy hoof aan die voorkant kaal word, het hy ’n bles; hy is rein. |
42 | Maar as daar in die kaalte of in die bles ’n rooierige wit plek is, dan is dit melaatsheid wat uitbreek in die kaalte of in die bles. |
43 | As die priester dit bekyk en sien dat die swelsel van die aangetaste plek in die kaalte of in die bles rooierig wit is, wat lyk soos die melaatsheid van die vel van die vlees, |
44 | dan is hy ’n melaatse, hy is onrein; die priester moet hom sekerlik onrein verklaar; op sy hoof het hy die plaag. |
45 | Verder moet in die klere van die melaatse op wie die plaag is, skeure wees, en sy hare moet los hang; ook moet hy sy baard bedek en roep: Onrein, onrein! |
46 | Al die tyd dat die plaag op hom is, sal hy onrein wees. Onrein is hy; alleen moet hy woon; buitekant die laer moet sy woning wees. |
47 | Verder, as daar in ’n kledingstuk die plaag van melaatsheid is, in ’n kledingstuk van wol of linne; |
48 | of in die skeerdraad of die inslag van linne of wol, of in ’n vel of enige leerwerk; |
49 | en die aangetaste plek in die kledingstuk of in die vel of in die skeerdraad of die inslag of in enige leervoorwerp liggroen of rooierig is, dan is dit ’n plaag van melaatsheid, en hulle moet die priester dit laat sien. |
50 | Die priester moet dan die aangetaste plek bekyk en die aangetaste voorwerp sewe dae lank opsluit. |
51 | Dan moet hy op die sewende dag die plek bekyk; as die plaag versprei het in die kledingstuk of in die skeerdraad of die inslag of in die vel, vir watter diens die vel ook al verwerk is, dan is die plaag ’n kwaadaardige melaatsheid; so iets is onrein. |
52 | Daarom moet hy die kledingstuk of die skeerdraad of die inslag van wol of van linne of enige leervoorwerp waarin die aangetaste plek is, verbrand; want dit is ’n kwaadaardige melaatsheid. Dit moet met vuur verbrand word. |
53 | Maar as die priester sien dat die plek in die kledingstuk of in die skeerdraad of die inslag of in enige leervoorwerp nie versprei het nie, |
54 | dan moet die priester beveel dat hulle die voorwerp was waar die plek aan is; en hy moet dit nog ’n keer sewe dae lank opsluit. |
55 | As die priester dan die aangetaste voorwerp bekyk, nadat dit gewas is, en sien dat die plek nog net so lyk, hoewel die plek nie versprei het nie, dan is dit onrein; jy moet dit met vuur verbrand. Dit is ’n invreting aan die agter- of aan die voorkant. |
56 | Maar as die priester sien dat die plek, nadat dit gewas is, dof van kleur geword het, dan moet hy dit uit die kledingstuk of uit die vel of uit die skeerdraad of die inslag uitskeur. |
57 | Maar as dit nog in die kledingstuk of in die skeerdraad of die inslag of in enige leervoorwerp gesien word, dan is dit ’n melaatsheid wat weer uitbreek; jy moet die aangetaste voorwerp met vuur verbrand. |
58 | Maar die kledingstuk of die skeerdraad of die inslag of enige leervoorwerp wat jy was — as die plek daaruit verdwyn het, moet dit nog ’n keer gewas word, en dit sal rein wees. |
59 | Dit is die wet oor die plaag van melaatsheid in ’n kledingstuk van wol of linne of in die skeerdraad of die inslag of in enige leervoorwerp, om dit rein of onrein te verklaar. |