1 | EN ná hierdie dinge het dít gebeur: Nabot, ’n Jisreëliet, het in Jísreël ’n wingerd gehad, wat langs die paleis van Agab, die koning van Samaría, was. |
2 | En Agab het met Nabot gespreek en gesê: Gee my jou wingerd, dat dit my groentetuin kan word, want dit is naby, langsaan my huis; dan sal ek jou in die plek daarvan ’n wingerd gee wat beter is; of as dit goed is in jou oë, sal ek jou die koopprys daarvan in silwer gee. |
3 | Maar Nabot het vir Agab gesê: Mag die HERE my daarvoor bewaar dat ek die erfdeel van my vaders aan u sou gee! |
4 | Toe kom Agab in sy huis, verbitterd en toornig oor die woord wat Nabot, die Jisreëliet, met hom gespreek het, naamlik: Ek mag nie die erfdeel van my vaders aan u gee nie. En hy het op sy bed gaan lê en sy gesig omgedraai en geen brood geëet nie. |
5 | Daarop kom sy vrou Isébel by hom en sê vir hom: Waarom is jou gees dan so verbitterd dat jy geen brood eet nie? |
6 | En hy antwoord haar: Omdat ek met Nabot, die Jisreëliet, gespreek en aan hom gesê het: Gee my jou wingerd vir geld, of as jy wil, sal ek jou ’n wingerd in die plek daarvan gee — maar hy het gesê: Ek mag my wingerd nie aan u gee nie. |
7 | Toe sê sy vrou Isébel vir hom: Oefen jý nou die koningskap oor Israel uit? Staan op, eet brood, en laat jou hart vrolik wees: ek sal jou die wingerd van Nabot, die Jisreëliet, gee. |
8 | Daarop het sy briewe in die naam van Agab geskrywe en met sy seël dit verseël en die brief gestuur aan die oudstes en die edeles wat in sy stad was, wat by Nabot gewoon het. |
9 | En in die briewe het sy dit geskrywe: Roep ’n vasdag uit, en sit Nabot vooraan onder die volk; |
10 | en sit twee manne, deugniete, teenoor hom, wat teen hom getuig en sê: Jy het God en die koning gevloek! Lei hom dan uit en stenig hom, dat hy sterwe. |
11 | Die manne van sy stad, die oudstes en die edeles wat in sy stad gewoon het, maak toe soos Isébel hulle laat weet het, soos geskrywe was in die briewe wat sy aan hulle gestuur het. |
12 | Hulle het ’n vasdag uitgeroep en Nabot vooraan onder die volk gesit. |
13 | Toe kom die twee manne, deugniete, en gaan sit teenoor hom; en die deugniete het teen hom, teen Nabot, voor die volk getuig en gesê: Nabot het God en die koning gevloek. Daarop lei hulle hom buitekant die stad uit en stenig hom, sodat hy gesterf het. |
14 | Daarna laat hulle Isébel weet: Nabot is gestenig en is dood. |
15 | Net toe Isébel hoor dat Nabot gestenig en dood was, sê Isébel vir Agab: Staan op, neem die wingerd van Nabot, die Jisreëliet, in besit wat hy geweier het om vir geld aan jou te gee; want Nabot leef nie, maar is dood. |
16 | Net toe Agab hoor dat Nabot dood was, het Agab opgestaan om na die wingerd van Nabot, die Jisreëliet, af te gaan om dit in besit te neem. |
17 | Maar die woord van die HERE het tot Elía, die Tisbiet, gekom en gesê: |
18 | Maak jou klaar, gaan af Agab, die koning van Israel, wat in Samaría is, tegemoet; kyk, hy is in die wingerd van Nabot, waarheen hy afgegaan het om dit in besit te neem. |
19 | En jy moet met hom spreek en sê: So sê die HERE: Het jy doodgeslaan en ook in besit geneem? Verder moet jy met hom spreek en sê: So spreek die HERE: Op die plek waar die honde die bloed van Nabot gelek het, sal die honde ook jou eie bloed lek. |
20 | Daarop sê Agab vir Elía: Het jy my gekry, my vyand? En hy antwoord: Ek het u gekry, omdat u uself verkoop het om te doen wat verkeerd is in die oë van die HERE! |
21 | Kyk, Ek gaan onheil bring oor jou en jou skoon wegvee; en Ek sal van Agab uitroei al wat manlik is in Israel, sonder uitsondering. |
22 | En Ek sal jou huis maak soos die huis van Jeróbeam, die seun van Nebat, en soos die huis van Baésa, die seun van Ahía; weens die geterg waarmee jy My geterg het, en dat jy Israel laat sondig het. |
23 | En ook oor Isébel het die HERE gespreek en gesê: Die honde sal Isébel eet by die voorskans van Jísreël. |
24 | Die een wat van Agab in die stad sterwe, hom sal die honde eet, en wie in die veld sterwe, sal die voëls van die hemel eet. |
25 | Waarlik, daar was niemand soos Agab wat homself verkoop het om te doen wat verkeerd is in die oë van die HERE nie, omdat sy vrou Isébel hom verlei het. |
26 | En hy het baie afskuwelik gehandel deur agter die drekgode aan te loop net soos die Amoriete gedoen het wat die HERE voor die kinders van Israel uit verdrywe het. |
27 | En toe Agab hierdie woorde hoor, het hy sy klere geskeur en ’n roukleed om sy lyf gebind en gevas; hy het ook met die roukleed geslaap en stadig rondgeloop. |
28 | Toe kom die woord van die HERE tot Elía, die Tisbiet, en sê: |
29 | Het jy gesien dat Agab hom voor my aangesig verneder het? Omdat hy hom voor my aangesig verneder het, sal Ek die onheil in sy dae nie bring nie; in die dae van sy seun sal Ek die onheil oor sy huis bring. |