1 | EN in die dae van Ahasvéros — dit is die Ahasvéros wat geregeer het van Indië af tot by Kus, honderd-sewen-en-twintig provinsies — |
2 | in dié dae toe koning Ahasvéros op sy koninklike troon in die vesting Susan gesit het, |
3 | in die derde jaar van sy regering, het hy ’n maaltyd berei vir al sy vorste en sy dienaars; die leërmag van Persië en Medië, die vername manne en die vorste van die provinsies was voor hom; |
4 | waarby hy die rykdom van sy koninklike heerlikheid en die skitterende prag van sy grootheid baie dae, honderd-en-tagtig dae lank, vertoon het. |
5 | En toe dié dae verby was, het die koning vir al die mense wat in die vesting Susan aanwesig was, van die grootste tot die kleinste, ’n maaltyd berei, sewe dae lank, op die voorplein van die tuin van die koninklike paleis. |
6 | Linne-, katoen- en pers stowwe was met linne- en purperrooi bande vasgemaak aan silwerringe en marmerpilare! Goue en silwerrusbanke op ’n plaveisel van malachiet en van witmarmer en perlemoensteen en gevlekte marmer! |
7 | Daarby het hy hulle laat drink uit goue bekers, en die een beker was verskillend van die ander beker, en daar was koninklike wyn in oorvloed, eg koninklik! |
8 | En hulle het gedrink volgens voorskrif: niemand het gedwing nie; want so het die koning bevel gegee aan al die hoë beamptes van sy paleis, dat hulle na elkeen se sin moes handel. |
9 | Ook het die koningin Vasti ’n vrouemaaltyd aangerig in die koninklike paleis van koning Ahasvéros. |
10 | Op die sewende dag, toe die hart van die koning vrolik was van die wyn, het hy aan Mehúman, Bista, Harbóna, Bigta en Abágta, Setar en Karkas, die sewe hofdienaars wat voor koning Ahasvéros gedien het, gesê |
11 | dat hulle koningin Vasti met die koninklike kroon op voor die koning moet bring om haar skoonheid aan die volke en die vorste te toon, want sy was mooi van aansien. |
12 | Maar koningin Vasti het geweier om te kom op die bevel van die koning deur middel van die hofdienaars aan haar oorgebring. Toe het die koning baie kwaad geword, en sy woede het in hom ontvlam. |
13 | En die koning het aan die wyse manne, die kenners van die tye, gesê — want só word die sake van die koning aan al die kenners van wet en reg voorgelê; |
14 | en die naaste aan hom was: Karséna, Setar, Admáta, Tarsis, Meres, Marséna, Memúgan, die sewe vorste van die Perse en Meders wat die aangesig van die koning gesien het, wat vooraan gesit het in die koninkryk — |
15 | wat moet volgens wet gedoen word met koningin Vasti, omdat sy die bevel van koning Ahasvéros, deur middel van sy hofdienaars, nie opgevolg het nie? |
16 | Toe sê Memúgan voor die koning en die vorste: Nie alleen teen die koning het koningin Vasti misdaan nie, maar ook teen al die vorste en al die volke wat in al die provinsies van koning Ahasvéros is. |
17 | Want die geval van die koningin sal by al die vroue bekend word, sodat dit hulle manne in hul oë veragtelik sal maak as daar gesê word: Koning Ahasvéros het bevel gegee om koningin Vasti voor hom te bring, maar sy het nie gekom nie. |
18 | Dieselfde dag nog sal die vorstinne van die Perse en Meders, as hulle die geval van die koningin hoor, dit aan al die vorste van die koning vertel; en dan sal dit genoeg veragting en gramskap afgee! |
19 | As die koning dit goedvind, laat daar ’n koninklike woord van hom uitgaan en beskrywe word in die wette van die Perse en Meders, sodat dit onherroeplik is, dat Vasti nie meer voor koning Ahasvéros mag kom nie; en laat die koning haar koninklike waardigheid aan haar naaste gee wat beter is as sy. |
20 | As dan van die bevelskrif van die koning gehoor word wat hy in sy hele koninkryk — want dit is groot — uitvaardig, sal al die vroue aan hulle manne eer bewys, van die grootste tot die kleinste. |
21 | En die woord was goed in die oë van die koning en van die vorste, en die koning het gehandel volgens die raad van Memúgan. |
22 | En hy het briewe gestuur aan al die provinsies van die koning, aan elke provinsie volgens sy eie skrif en aan elke volk volgens sy eie taal, dat elke man in sy huis baas moet wees en sy volkstaal praat. |