1 | GODSPRAAK oor Moab. Waarlik, in die nag is Ar-Moab verwoes, vernietig! Waarlik, in die nag is Kir-Moab verwoes, vernietig! |
2 | Hulle gaan op na die tempel, en Dibon na die hoogtes om te ween; Moab huil op Nebo en in Medéba; op al hulle hoofde is ’n kaalte, elke baard is afgeskeer. |
3 | Op hul strate het hulle rouklere aangegord; op hulle dakke en op hulle pleine huil alles en smelt weg in geween. |
4 | Hesbon en Eleále skreeu, hulle stem word gehoor tot Jahas toe; daarom hef die gewapende manne van Moab ’n angsgeskreeu aan, sy siel sidder. |
5 | My hart skreeu oor Moab, sy vlugtelinge kom tot by Soar, Eglat-Selísia. Want die hoogte van Luhit beklim hulle met geween; ja, op pad na Horonáim laat hulle ’n geskreeu van verwoesting weerklink; |
6 | want die waters van Nimrim word ’n woesteny, ja, die gras is verdor, die grasspruitjies het vergaan, daar is geen groenigheid nie. |
7 | Daarom gaan hulle die oorwins wat hulle gemaak het, en hulle voorraad, oor die Wilgerspruit dra. |
8 | Want die geskreeu gaan rond in die grondgebied van Moab, sy gehuil tot by Eglaim en sy gehuil tot by Beër-Elim. |
9 | Want die waters van Dimon is vol bloed; want Ek sal oor Dimon nog meer bring, ’n leeu oor dié van Moab wat ontvlug het, en oor die oorblyfsel van die land. |