1 | ONTWAAK, ontwaak, beklee jou met sterkte, o Sion, trek jou sierlike klere aan, o Jerusalem, heilige stad! Want in jou sal verder geen onbesnedene of onreine meer kom nie. |
2 | Skud jou los uit die stof, staan op, sit neer, o Jerusalem! Maak los die bande aan jou hals, o gevangene, dogter van Sion! |
3 | Want so sê die HERE: Vir niks is julle verkoop, julle sal ook sonder geld gelos word. |
4 | Want so sê die Here HERE: In vroeër dae het my volk afgetrek na Egipte om daar as vreemdeling te vertoef, en Assur het hom sonder rede verdruk. |
5 | Maar nou, wat vind Ek hier? spreek die HERE; want my volk is vir niks weggeneem, sy oorheersers maak geraas, spreek die HERE, en my Naam word gedurigdeur die hele dag gelaster. |
6 | Daarom sal my volk my Naam leer ken; daarom sal hulle weet op dié dag dat dit Ek is wat spreek: Hier is Ek! |
7 | HOE lieflik is op die berge die voete van hom wat die goeie boodskap bring, wat vrede laat hoor, wat goeie tyding bring, wat verlossing uitroep; wat aan Sion sê: Jou God is Koning! |
8 | Hoor! Jou wagte! Hulle verhef die stem, hulle jubel almal saam; want hulle sien vlak voor hulle oë hoe die HERE terugkeer na Sion. |
9 | Breek uit, jubel almal saam, puinhope van Jerusalem! Want die HERE het sy volk getroos, Jerusalem verlos. |
10 | Die HERE het sy heilige arm ontbloot voor die oë van al die nasies, en al die eindes van die aarde sal sien die heil van onse God. |
11 | Vertrek, vertrek, gaan weg daarvandaan, raak nie aan wat onrein is nie; gaan uit hulle midde uit, reinig julle, draers van die heilige voorwerpe van die HERE! |
12 | Want julle sal nie baie haastig weggaan en nie soos vlugtelinge vertrek nie; want die HERE trek voor julle uit, en die God van Israel is julle agterhoede. |
13 | KYK, my Kneg sal voorspoedig wees, Hy sal hoog en verhewe, ja, baie hoog word. |
14 | Soos baie hulle oor U verstom het — so misvormd was sy voorkoms, geen mens meer nie, en sy gestalte was nie soos dié van ’n mensekind nie — |
15 | so sal Hy baie nasies laat opspring, konings sal hulle mond oor Hom toehou; want wat aan hulle nie vertel is nie, sien hulle; en wat hulle nie gehoor het nie, word hulle gewaar. |